1. LIEF EN LEED
Deel julle lief en leed met mekaar vir gebede en bemoediging en danksegging.
2. RAAK STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID
Buig in gebed vir die byeenkoms. In stilte, of hardop.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD
Lees Psalm 139:1-24. Wat tref julle met die eerste oogopslag in hierdie gedeelte?
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD
Gesels met mekaar oor die lewe, vrymoedigheid en maskers. Leef mense deesdae deursigtig of met maskers? Wat maak dat mense ‘gemaskerd’ lewe, met voorgee of met geslotenheid? Hoekom dra mense ‘maskers? Is dit ‘n goeie ding om maskers te hê? Met hoeveel vrymoedigheid en deursigtigheid lewe mense vandag? Selfs ek en jy, kan ons dit waag om waarlik deursigtig te lewe – onsself te wees?
5. LUISTER WEER NA GOD SE WOORD
Lees weer Psalm 139:1-24. Dit is ‘n aangrypende psalm waarin die psalmdigter met God praat. ‘n Psalm vol lof en verwondering wat handel oor God se nabye teenwoordigheid en die wonder van menswees. Dat God elke mens nie net kunstig geskep het nie, maar ook naby en intiem ken. Dat daar niks is van jou en my wat Hy nie weet nie, en geen gang van ons lewe is wat Hy nie bepaal nie.
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN
God ken ons deur en deur. Dit is ‘n besef wat ‘n mens eintlik bang maak. Daar is geen plek waarheen ek kan gaan of gedagte wat ek kan bedink wat Hy nie ken en weet nie. Hy ken my gedagtes, motiverings, vrese en blydskap. Hy ken my skuld en my skande, my drome en my wense. Selfs in die donkerste van my wese en bestaan is Hy by my. Ek kan (en hoef) nooit sy teenwoordigheid ontvlug nie. En al is dit enersyds ‘n ontstellende gedagte, hoef dit my nie bang te maak nie, want Hy, die Almagtige, Alomteenwoordige God is my goedgesind. Hy, die Skepper, het my met sorg en liefde geskep, Hy ken my al van voor geboorte af, ‘n kunswerk geweef deur sy hand. Omdat Hy my geskep het en lief het, het Hy ook Homself in Jesus Christus aan my gegee en woon Hy deur sy Gees in my. Sodat ek dubbeld syne kan wees; sy kind – kosbaar, uniek en spesiaal!
7. ANTWOORD MET GEBED
Tog is daar dinge in my lewe en in my hart wat (vir my en ander) duister is. Maar wat God ken en verstaan, al verstaan ek dit nie. Daarom kan ons, deur sy genade met vrymoedigheid in maskerlose verhoudings leef; myself wees! Hoef ek nie voor te gee of ‘n front voor te hou nie. Kan ek deursigtig en vrymoedig lewe! Kom ons maak die psalmdigter se gebed ook ons s’n: Deurgrond my o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad – U pad!