1.    LIEF EN LEED
Deel julle lief en leed met mekaar vir gebede en bemoediging en danksegging.

2.    RAAK STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID
Buig in gebed vir die byeenkoms. In stilte, of hardop.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD
Lees Matteus 5:13-16. Wat tref julle met die eerste oogopslag in hierdie gedeelte?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD
Gesels met mekaar oor mense. Watse effek het mense op mekaar? Is daar mense in die lewe wat ander opbeur en opvrolik en kry jy ook mense wat ander se gemoed omkrap? Wat sommer net negatief oorkom en jou energie tap? Is dit makliker om positief of negatief beïnvloed te word?

5.    LUISTER WEER NA GOD SE WOORD
Lees weer Matteus 5:13-16. Jesus praat met ‘n menigte mense. Dit is aan die begin van sy openbare optrede, en in die bergrede spreek Hy ‘n groot skare mense aan, mense soos ek en jy. Hy begin met die saligsprekinge, en daarna sê Hy vir die mense: Julle is die sout vir die aarde... en julle is die lig vir die wêreld. Geweldige uitsprake om te maak! Wanneer mense goeie mense is, sê ons gewoonlik hulle is die sout van die aarde... Maar Jesus sê ons is die sout vir die aarde!

6. FOKUS OP WAT GOD DOEN
Daarmee deel Jesus met die mense (ook met ons vandag) iets van ons identiteit en roeping. Ons is sout en ons is lig! Geroep om ‘n spesifieke effek en invloed op ander mense te hê. Destyds en selfs vandag nog het sout talle gebruike: Sout gee smaak aan kos; dink maar aan pap of vleis sonder sout! Verder het sout ontsmettingswaarde, dit maak wonde skoon en gesond. Sout preserveer vleis en ander voedsel – help om dit te bewaar. En dalk is dit juis wat Jesus bedoel met sy uitspraak: Ons, volgelinge van Jesus, ons as Christene het ‘n roeping en taak om smaak aan die lewe te gee, om mense wat seer het en stukkend is, te help genees en om verhoudings en liefde te bewaar. Sout los op in kos en moet daarom ook nie alles op een hoop bly lê nie, maar ingeroer word in die lewe. Daarom moet Christene gebalanseerd ‘n verskil maak in hierdie wêreld en nie onttrek van die samelewing nie.

7. ANTWOORD MET GEBED
Daar is mense wat smaak gee aan die lewe en ander help genees, maar daar is ook ander wat die lewe versuur en wonde slaan. Wat eerder asyn is as sout. Party mense bewaar vrede, liefde en verhoudings en ander wil die heeltyd baklei of kritiseer. Buig voor die Here in stil gebed en maak die saak met Hom uit oor wat is jy: Sout of Asyn? Watse effek het jy op ander mense? Is dit genesend of afbrekend? Bely voor God jou onvermoë en vra Hom om jou te help om in sy Naam sout in hierdie wêreld te wees wat ander aanraak met sy liefde en genade. En dat Hy ons sal help om nie maar net op ‘n hoop te lê en laf te word nie, maar om gebalanseerd op te los in hierdie lewe en so sy roeping uit te leef!