1. Lief en leed – deel met mekaar julle lief en leed van die afgelope week en jaar. Bemoedig, vertroos en versterk mekaar.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – vind rus in God se teenwoordigheid en bid saam. Raak eers individueel stil voor die Here, en bid dan vrymoedig hardop saam.

3. Luister na God se Woord – Lees 1 Tessalonisense 2:1-12 saam deur. Laat elkeen in die groep ‘n kort opsomming gee van hoe hy/sy dit verstaan.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Gesels met mekaar en deel hoe julle werk (arbeid) verstaan. Is dit ’n voorreg of ’n vloek? Werk ons as straf van God op die sonde, of is werk deel van God se roeping vir ons. Wat beleef julle in die wêreld rondom ons ten iopsigte van arbeid en arbeidsetiek? Is mense nog trots op wat hulle doen? Hoekom of hoekom nie? Watter tipe probleme is daar alles t.o.v. werk of werkloosheid? Hoe dink die samelewing daaroor. Wat bekommer julle t.o.v. die arbeidsituasie in ons land en gemeenskap? Hoe voel en dink jy oor die werk wat jy doen of dalk gedoen het (indien jy reeds afgetree is)?

5. Luister nou weer na God se Woord – Lees weer 1 Tessalonisense 2:1-12, maar lees nou ook 2 Tessalonisense 3:6-13. Wat sê hierdie gedeeltes oorwerk? Hoe behoort ons gesindheid teenoor werk te wees? Wat is die implikasies as iemand dan nie ’n werk het nie, of sy/haar werk verloor het? En wat is implikasies en eise aan ons as gelowiges as ons werk het? Hoe behoort ons dit te doen en vir wie?

6. Fokus op wat God doen – God skenk aan mense werksgeleenthede. Hy gee ook aan ons die liggaamlike en psigiese krag en vermoë om te kan werk. Dank Hom daarvoor.

7. Antwoord met ons lewe – Kom ons gaan doen alles wat ons ons hand vind om te doen, vir die Here – dit is met entoesiasme, dankbaarheid en deur ons bes te doen. As jy nie die werk kan doen waarvan jy hou nie, kies dan om te hou van die werk wat jy doen!

8. Bid nou saam - dank God as jy ‘n werk het. Bring moeilike en uitdagende situasies by die werk in gebed na Hom. Bid vir ander (en jouself) wat dalk nie werk het nie, of hulle werk verloor het (of gaan verloor). Dra mekaar aan die Here op in dié verband en vra Hom dat Hy ons sal help om perspektief te behou. Stel jouself in gebed beskikbaar aan die Here om ook by die werk vir Hom ‘n getuie te wees!