1. Lief en leed – deel met mekaar jul lief en leed van die afgelope tyd.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – ons nooi God nie in ons teenwoordigheid in nie. Hy is daar. Ons raak bewus van ons in Sy teenwoordigheid!  BID  saam vir ontvanklike harte en ‘n leerbare gees.

3. Luister na God se Woord – Lees 1 Konings 17:1-9, asook 18:1-3 en 17-21 en 36-39 en 44-46 asook hfst. 19:1-4 en vers 9. Wat tref jou uit hierdie verhalende gedeelte oor die interaksie tussen die verskillende mense, groepe en God? Wat staan vir jou uit as ‘n Boodskap vir jou persoonlik?

4. Luister na mekaar en die Wêreld - Lees Jakobus 5:17. Wat sê dit vir jou oor Elia en veral oor jouself? Die wêreld meet ons aan sy eie standaarde. Mense verwag dikwels van mekaar om nie foute te maak nie en as’t ware perfek te wees. Beleef jy dit ook ? Wanneer? Wat sê dit vir jou dat God Elia gebruik om wonders te doen ten spyte van sy foute?

5. Luister nou weer na die Woord – Lees weer die gedeeltes hierbo aangedui. Groot wonderwerke het deur Elia gebeur omdat hy was waar God hom wou hê, DAAR waar God hom wou gebruik. Maar Elia kom ook op ‘n plek waar die Here hom nie wil hê nie. Bang, in die woestyn, onder ‘n besembos, asof God self hom in die steek gelaat het!! Elia se krag lê  duidelik nie in homself nie, maar in die openbaring van God aan hom , en God se werk deur hom! Lees 18:1 ! Dit is vandag nog net so met ons! bespreek dit. God se Woord plaas jou in ‘n posisie van invloed. Jy moet hierdie invloed dapper en gehoorsaam uitvoer. Ons verloor ook ons visie, soos Elia met Isebel. Dan word ons bang en gaan woestyn in. Ons skram weg van God se openbaring en woorde wat ons moet bring waar God ons stuur. Elia gehoorsaam God en gaan na Agab. Hy het nie ‘n idee wat gaan gebeur as hy God se boodskap vir Agab gee nie. Maar hy gaan wees DAAR waar die Here hom wil hê. Met geloof , vertroue, moed en gehoorsaamheid! Wanner hy dit doen hoor hy  dat God alreeds vir hom sorg ten opsigte van die gevolge! Lees weer 17:2-9! God sorg!! Let op hoeveel keer die word “daar” gebruik word! God wil hom daar hê en daar vir hom sorg! -    Is dit waar die Here jou wil hê? Ten opsigte van jou hele lewe? Waar is jy nie daar waar die Here jou wil hê nie? Dink daaroor en bespreek dit. Wanneer jy in geloof die eerste tree neem, wys God vir jou die tweede en derde en die res…. Dit is ‘n kragtige waarheid! Die Here stuur nie die kraaie na waar Elia is nie, maar stuur Elia daar na waar Hy hom wil hê. Die wonderwerke in Elia se lewe is daar waar die Here hom stuur! Ongeloof, en ongehoorsaamheid ,en gebrek aan vertroue in die Here, maak dat ons is waar ons wil wees, in plaas van daar waar God ons wil hê..Neem tree vir tree saam met die Here! Vers 46 word waar in jou lewe: Die mag van die Here neem besit van jou!! In 19:9 vra die Here vir Elia: Wat maak jy hier? Vra Hy dit ook vir my? Wat maak ek in die woestyn? Gaan saam met die Here tree vir tree na daar waar Hy jou wil hê! Daar sal die mag van die Here besit van jou neem!

6. Fokus op wat God doen – gesels oor wat julle dink God se boodskap is, en wat Hy hierdeur met ons wil doen.

7. Antwoord met gebed en met jou lewe – Bid saam en gaan leef God se Boodskap!