1. LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed vir bemoediging en voorbidding.
2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – vind rus in God se teenwoordigheid en bid saam.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – Lees Lukas 7:36-50 saam. Dit is die verhaal van Simon ‘n fariseër wat Jesus vir ete genooi het. En toe daag daar ‘n ongenooide gas op – nie om saam te eet nie, maar om Jesus te salf. Sy was ‘n sondige vrou wat gehoor het dat Jesus by Simon sou wees. Sy staan agter Jesus en huil, sodat haar trane op sy voete gespat het. Sy droog sy voete met haar hare af en daarna salf sy Jesus se voete met reukolie. Simon het natuurlik die hele petalje met afgryse gade geslaan. Sy was besig om die hele ete te ontwrig en sy huis te verontreinig. Wat moet hy doen? Hy kan nie ongeskik wees en die vrou net wegjaag nie ; wat sou sy gaste dan van hom dink?
Maar tog het hy heimlik gewonder of Jesus weet watse slegte vrou dit was wat Hy aan Hom laat raak? Dat sy sondig was en Jesus daarom onrein. Dit was vir Simon duidelik dat Jesus nie ‘n profeet kon wees nie, anders sou Hy mos geweet het. Ook was dit duidelik dat Jesus nie heilig kon wees nie, want anders sou Hy nie toegelaat het dat die vrou aan Hom vat nie! Wie en wat was Jesus dan?
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – deel met mekaar hoe ek en jy sou optree as daar sommer ’n ongure ongenooide gas by een van ons familiebyeenkomste sou aansluit? Wat sou jy wou doen of sê? Of wat sou jy doen? Hoe hanteer die wêreld ongenooide gaste?
5. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – Lees nou weer die gedeelte. Jesus self het dit natuurlik baie anders beleef as Simon! Jesus weet wat Simon dink en hy konfronteer hom in die openbaar: Hy vertel vir hom en al die ander gaste die gelykenis van twee skuldenaars, een wat bietjie en een wat baie geskuld het. Hulle skuldeiser skeld beide hulle skuld kwyt. En dan vra Jesus vir Simon: “Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” en Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.” En so veroordeel hy onwetend homself (en vir ons?)!
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – En dan leer Jesus (God self) vir Simon, die gaste en vir ons ‘n les: Al het Simon Jesus vir ete genooi, het hy nie aan Hom die eer bewys wat Hom toekom nie. Hy het Hom nie eers waarlik soos ‘n gas hanteer nie! Hy het nie sy voete (laat) was nie, hy het Hom nie eers ordentlik gegroet nie en hy het Hom nie erken (gesalf) vir Wie Hy was nie. Die sondige vrou (Joh 11 sê vir ons dit was Lasarus se suster Maria) het daarenteen met haar trane sy voete natgemaak en met haar hare afgedroog; sy het nie opgehou om sy voete te soen nie en sy het sy voete met reukolie gesalf. Totaal anders as Simon se optrede en gesindheid! En dan kom Jesus by die punt wat Hy Simon, ons en Maria herinner: “Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” En vir Maria sê Hy: “Jou sondes is vergewe.” Geskok en verras vra die mense: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”
7. ANTWOORD MET JOU LEWE – Goddank hoef ek en jy nie meer te wonder: Wie is hierdie Man nie! Wie is Jesus nie! Hy is God self wat al ons BAIE sonde vergewe! Besef jy hoe BAIE is jou vergewe? Maria het en aan Hom baie liefde bewys. Hoe baie liefde bewys jy??? Kom ons gaan besef en bely dan ook ons skuld en aanvaar die vergifnis wat Jesus deur sy bloed as finale, volkome offer gebring het. Kom ons vier dit in hierdie Feesmaal [Nagmaal] saam met Hom! En dan lewe ons uit die vryspraak en redding wat Hy vir ons bewerk het, sonder om ander mense af te skryf! Dan gaan bewys ons BAIE LIEFDE in JESUS se NAAM!
8. BID NOU SAAM!
Dank God dan vir sy vergifnis en wy jou-/ julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, wat op grond van sy volkome vergifnis baie liefde in sy Naam bewys!