1. Lief en leed – Deel julle lief en leed met mekaar, met die oog op gebed en die bemoediging van mekaar.
2. Ingenooi in God se rus en tyd – Raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid. Ervaar die saamwees in sy teenwoordigheid, en bid saam dat julle sy stem uit die Woord sal hoor.
3. Luister na God se Woord – Lees Handelinge 2:14-41. Watter drie punte staan die meeste vir jou uit? Deel dit met jou groep. (Dit is belangrik om na mekaar se idees te luister; ons leer verskriklik baie van ander, dit verryk ons.)
4. Luister na mekaar en die wereld – Bespreek nou saam 5 dinge vanuit hierdie teks:
• Watter omstandighede in ons lewens is dieselfde as die van die geloofsgemeenskap van Handelinge?
• Met watter karakter sou u u vereenselwig, en hoekom?
• Wat het Petrus se preek vir u persoonlik beteken?
• Hoe sou u dit van toepassing kon maak in u lewe?
• Hoe lyk so ‘n verhouding met God?
5. Luister nou weer na God se Woord – Petrus spreek die gemeenskap toe oor die krag van die Heilige Gees. Hy is ‘n praktiese voorbeeld, waarvan hy preek. Hy word hier gelei deur die Heilige Gees. Die Gees was so pas uitgestort, toe ontvang hy die krag om ‘n getuie van Christus te wees. Sy hele prediking gaan daaroor, om te bevestig dat dit wel die werking van die Gees is wat die mense aanskou het, en dit het ook aan die toeskouers ‘n aanduiding gegee, van hoe om op die Gees se werking in hulle eie lewens te reageer. Hulle moes slegs hulle sondes bely, en gedoop word. Die hele punt van Petrus se prediking was, dat na die kruisiging van Jesus Christus, die Evangelie vir almal bedoel is – vir hulle en hulle kinders en almal wat nog vêr was! Almal kan die Gees van God ontvang, en gered word. Al wat hulle moet doen is die Naam van die Here aanroep. Dit is vandag nog van toepassing in ons huidige lewens. Ons moet net die werking van die Gees raaksien. Ons moet die Gees innooi, en toelaat dat Hy ons lewens verander. Ons moet getuies van God word hier op aarde. Dit is ons roeping.
6. Fokus op wat God doen – Gesels saam oor dit wat jy sien, wat God deur jou lewe doen.
7. Antwoord met jou lewe – Deel met mekaar oor hoe ons meer deur die Gees van God kan lewe, en wat dit in ons lewens sal beteken indien ons dit doen.
8. Bid nou saam! Wanneer ons bid, kom ons vra vir God om opnuut Sy Gees in ons harte uit te stort, en ons sensitief te maak vir die werking van die Gees in ons lewens. Dra al jou swakhede aan God op, en laat Hom toe om jou te wys hoe kosbaar jy vir Hom is.
9. Administrasie – Maak seker van U groep se diensbeurte en ander reëlings van belang. Onthou dat die Donderdag HEMELVAART is en dat die PINKSTER volgende week begin. Dalk kan julle die komende verrigtinge as groep saam geniet? Bid asseblief ook vir die DANKFEES volgende naweek; vir die KAMPVUURKUIER Vrydagaand, die BASAAR Saterdag en vir die spesiale dankie-sê met die WOEKERKOEVERTE op Sondag. Berei jouself ook geestelik voor vir die PINKSTERREEKS wat handel oor hoe om TOEGEWY AAN GOD TE LEWE, DEUR DIE HEILIGE GEES! Geniet u week, mag dit tot seën vir u wees…