1. LIEF EN LEED – Deel julle lief en leed met mekaar, met die oog op gebed en die bemoediging van mekaar.

2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – Raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid.  Ervaar die saamwees in sy teenwoordigheid, en bid saam vir die hoor van God se stem uit die Woord.

3. LUISTER NA GOD SE WOORD – Lees Psalm 92. Watter drie punte staan die meeste vir jou uit? Deel dit met jou groep. (Dis belangrik om na mekaar se idees te luister, ons leer verskriklik baie van ander, dit verryk ons.)

4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Bespreek nou saam 5 dinge vanuit hierdie teks:
•    Die woord/verordeninge van die Here
•    Hoe en hoekom gehoorsaam ons dit met ons hele en opregte hart?
•    Wat beteken God se woord/verordeninge prakties in jou lewe?
•    Wat beteken sonde vir hierdie pad wat ons kies?
•    Hoe lyk so ‘n verhouding met God?

5. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – Vir die psalmdigter in hierdie psalm is dit belangrik om eer en lof aan God te bring. Hy neem ‘n oomblik om vir God dankie te sê vir al die seëninge en gawes, wat God in oorvloed aan ons skenk. Maar daar is ook ‘n dieperliggende  danksegging in hierdie psalm. Want die skrywer praat van ‘n hele paar dinge - seëninge, wat ons ontvang, en wat ons is; as gevolg van die Gees van God wat in ons woon. Wanneer ons die Gees van God ontvang, soos ons in die tyd van Pinkster geleer het, ontvang ons ook die vrug van die Gees. Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, barmhartigheid, vriendelikheid, nederigheid, geduld, goedhartigheid, getrouheid en selfbeheersing. Die skrywer van hierdie psalm impliseer, dat wanneer ons hierdie vrugte begin dra, dit God sal verheerlik, en dit is hoe ons God bedank vir alles wat God (ook vir ons) doen. Want deur God se eienskappe in ons lewens te openbaar, maak ons Hom bekend aan ander mense, en verkondig ons so Sy heerlikheid en Sy Evangelie.

Die Gees is ook die lewende Water wat van ons magtige bome maak. Die psalm praat van palmbome, en hoë seders. Ons geloofsplantjies sal opgroei tot hierdie magtige bome, wat die vrug van die Gees dra. Dit is sulke groot seën en gawes wat God aan ons geskenk het, en deur dit in ons lewens bekend te stel, is ons besig om God te verheerlik. Dit is hoe ons dankie sê aan God vir alles! God is ons krag, en selfs op ‘n hoë ouderdom, sal God ons steeds laat toeneem in krag. Dit is hoe groot die dade van God is. Ons kan dit soms nie eers verstaan as mens nie. En dit is waaroorhierdie psalm gaan; om die wonderlike gawe van lewe, wat God aan ons almal skenk, te vier en Hom daarvoor te bedank. As ons egter nie die Gees het nie, of eerder: as Hy ons nie het nie; sal ons lewe onvolmaak wees. Dit sal soos ‘n leë dop wees, sonder inhoud of sin. Die mens kan nie uitkom by die wonderdade van God, vanuit homself nie! So bevestig ons ons totale afhanklikheid van God. God sluit hierdie psalm af, met ‘n laaste belofte aan ons. En dit is dat Hy ons Rots sal wees. Ons vaste fondament.

6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – Gesels saam oor dit wat jy sien, wat God deur jou lewe doen. Kan u hierdie volhoubare vrugte van God in u lewe opmerk? Waarvoor wil u God vandag bedank?

7. ANTWOORD MET JOU LEWE – Gesels oor hoe ons meer van hierdie vrug kan aankweek en  hoe ons dit kan gebruik vir ons rol in die uitbou van die koninkryk van God. Hoe kan ons nuwe maniere kry om God te bedank vir alles wat Hy vir ons doen? Wees meer bewus van ons absolute afhanklikheid van God, en vertrou Hom om ons lewenspaaie te lei. Werp al jou bekommernisse en vrese op Hom en vertrou dat Hy sal sorg. Hy is ons rots!

8. BID SAAM – Wanneer ons bid, kom ons vra vir God om ons opnuut op die regte koers te lei, en om Hom te bedank vir al ons seëninge en gawes. Dink veral aan verse 3; 5; 8; 11; 14 en 15. Deel  met die groep waarvoor hulle spesifiek vir jou kan bid, in terme van jou verhouding met God. Bid ook aan die hand van die gebedsbrief vir die gemeente, en hulle wie se name daarin genoem word. Bid ook spesifiek vir die uitreike en bedieninge in Madagaskar en Mosambiek.

9. ADMINISTRASIE – Maak seker van die groep se diensbeurte en ander reëlings van belang.
Geniet u week, mag dit tot wonderlike seën vir u wees.