1. LIEF EN LEED – Deel julle lief en leed met mekaar, met die oog op gebed en die bemoediging van mekaar.

2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – Raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid. Ervaar die saamwees van sy teenwoordigheid, en bid saam dat julle sy stem uit die Woord sal hoor.

3. LUISTER NA GOD SE WOORD – Elkeen lees Psalm 119 in stilte. Dit is die langste Psalm in die Bybel (‘n hele 176 verse !), en dus hoef jy nie elke vers te lees nie. Laat jou oog op die psalm val en lees die gedeeltes wat vir jou uitstaan of jou aandag trek. Wat val jou op? Deel dit met mekaar.

4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD: - Deel met mekaar watter rol God se Woord in julle lewe speel. Praat dan ook oor hoe jy God se Woord aan die werk sien in die samelewing. Het die Bybel nog ‘n plek en ‘n funksie in ons gemeenskap en in die tyd waarin ons lewe?

5. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – Kyk nou weer oorsigtelik na Psalm 119. Probeer al die plekke raaklees wat iets te doen het met God se Woord of God se woorde. Jy sal agterkom dat dit die sentrale tema van hierdie Psalm is. Die Psalm is eintlik ‘n baie lang gedig wat in die Hebreeus elke keer ‘n alfabetopskrif-strofe het. In die Ou vertaling sal jy ‘n mooi uiteensetting daarvan by Psalm 119 sien Die Hebreeuse alfabet het 23 letters en bestaan aanvanklik net uit konsonante.

In latere tye het die Masorete vokale by die konsonante geskryf, omdat die jonger geslagte nie meer outomaties die Woord/woorde van God verstaan het nie, en omdat verskillende vokale tot verskillende betekenisse sou kon lei.

En in ’n sin is dit ook die vreugde én bekommernis van die psalmdigter – Hy vind vreugde in God se Woord, maar weet nie of die jonger mense (sy nageslag) ook soveel erns maak/sal maak met God se Woord nie. Dit is vir hom lewensbelangrik dat God se Woord/e altyd die belangrikste plek in sy en in al sy geliefdes se lewe sal inneem. En hy getuig ook van God se persoonlike woorde aan hom – woorde van hoop en troos; beloftes wat die Here vir Hom gee en wat altyd vas bly staan!

’n Mens sou hierdie gedeelte dus kon tipeer as die ABC van God se Woord/e. God se Woord/e gaan nie net oor die Bybel nie, maar ook oor sy spesifieke beloftes aan ons as sy kinders. Dit gaan ook oor woorde van God en woorde oor God.

6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – As jy Johannes 6:68 hiermee saam lees, sien jy dat net God die Woord/e het wat lewe gee! Hy skenk aan ons sy lewende Woord en praat gemeenskaplik en persoonlik met elkeen van ons. Deur die Bybel praat God met ons en is die Heilige Gees met ons besig. Ons antwoord Hom natuurlik met gebed, geloof en gehoorsaamheid; met ons hele lewe!

7. ANTWOORD MET JOU LEWE – Deel met mekaar oor hoe ons meer en beter na God se Woord/e kan luister en hoe ons Hom kan eer en antwoord deur die hantering van sy Woord.

8. BID NOU SAAM! Kom ons sê vir God dankie vir sy Woord/e en wy onsself aan Hom toe met die voorneme om meer tyd met sy Woord te spandeer en ernstiger na sy Woord te luister en Hom te gehoorsaam! God se Woord sal ewig staan, soos die Oorwinningslied getuig!

9. ADMINISTRASIE – Maak seker van julle groep se diensbeurte en ander reëlings van belang. Onthou dat daar volgende week nagmaal is.