1. Lief en leed – Deel met mekaar die lief en leed van die afgelope week asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.
2. Die luistersiklus – Die luistersiklus is ‘n goeie inrigting van ‘n omgeegroep- of kleingroepbyeenkoms. Die luistersiklus bestaan uit drie groot bewegings: 1. Rus [en ontvang], 2. Hoor [en ontgin], 3. Leef [en ontplooi]. Die rus-beweging help ons om in ons gejaagde tyd voor God tot rus te kom. Die hoor-beweging help ons om uit verskillende hoeke te luister na God se Woord en die leef-beweging help ons om met ons lewe te antwoord. Elke byeenkoms / persoonlike stiltetyd sal dus onder die hoofde van 1. Rus en ontvang, 2. Hoor en ontgin en 3. Leef en ontplooi  ingerig word.
3. Rus en Ontvang – nadat julle gehoor het hoe dit met elkeen gaan, kan julle die Here loof en aanbid met ‘n paar liedere en/of gebede. Deel dan met mekaar waaroor julle die dink die doop gaan. Watter twee beloftes word in die doop gemaak, en w(W)ie maak die beloftes aan w(W)ie? Hoe sou julle die betekenis van die doop met iemand anders deel, of met mekaar die wonder van jou of jou geliefde se doop vertel? Die doop is heel eerste God se belofte aan ‘n kindjie (persoon) van liefde en genade, nog voordat ‘n mens kan antwoord, en dan tweedens van ouers aan God, wat die voorreg en verantwoordelikheid (roeping) uit God se hand ontvang om hulle kinders namens Hom groot te maak en aan sy liefde en wil te bind.
4. Hoor en ontgin – Lees Deuteronomium 6:4-25. Wat tref jou in hierdie gedeelte en watse troos en hoop gee dit vir jou? Deel met mekaar watter vers/e jou die meeste tref en ook hoekom. Wat dink jy beteken dit om God se gebooie in jou gedagtes te hou, tydig en ontydig daaroor te praat en dit op jou voorkop en stadspoorte en deurkosyne te skrywe? Wat sou ‘n herinneringsteken aan jou hande en merk aan jou voorkop beteken? Hoe kan en moet ons mekaar (ons geliefdes en medemens) daagliks aanspoor om saam met God te lewe en sy wil te soek? Wat behoort ons optrede teenoor kinders, kleinkinders en jonger mense  te wees om sodoende iets van God se teenwoordigheid en wil vir hulle sigbaar te maak?
5. Leef en ontplooi – In Deuteronomium 6:4-25 praat God natuurlik heel eerste met sy oorspronklike volk Israel, maar natuurlik ook met ons vandag. Die gedeelte begin met ‘n erkenning – ‘n belydenis. Die Here wat ons aanbid is die enigste Here! Daar is geen ander God as Hy nie! Hy het Homself met my en jou gedeel in Jesus Christus en deur sy Heilige Gees! Daarom word ons dan in God Drie-enig se Naam gedoop! Let op die wonderlike beloftes wat Hy aan Israel, en in ‘n ander sin aan ons gee. Beloftes van lewe, teenwoordigheid, hoop en betekenis.
Deel met mekaar wat dit vir jou beteken dat God Hom aan jou verbind het – Homself aan jou belowe het. En wat dit dan beteken om uit hierdie verbintenis (verbond) te lewe! Om tydig en ontydig aan God se wil te dink en sy gebooie (wet/bevele) te bepeins. Ons moet mekaar en ons kinders en kleinkinders leer om elke dag, saam God se wil te soek en te gehoorsaam! Mag jou lewe elke dag hiervan getuig!
6. Administrasie - Maak seker oor julle erediens- en nagmaaldiensbeurte
7. Sake vir gebed

  • Bid vir die doopouers, hulle familie en hulle kleingoed wat Sondag ten doop gebring is.
  • Bid vir die mense in die gebedsbrief of waarvan jy weet wat siek of hartseer is.
  • Dank die Here vir jou doop en vra dat Hy ons sal help onthou dat Hy van voor geboorte al tot in ewigheid met ons besig is! Loof Hom as die God wat roep, sorg en vertroos en gaan leef elke dag in sy teenwoordigheid, sodat ander kan sien dat daar geen God is buiten Hom nie!