1. Lief en leed – Deel met mekaar die lief en leed van die afgelope week asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.
2. Die luistersiklus – Die luistersiklus is ‘n goeie inrigting van ‘n omgeegroep- of kleingroepbyeenkoms. Die luistersiklus bestaan uit drie groot bewegings: 1. Rus [en ontvang], 2. Hoor [en ontgin], 3. Leef [en ontplooi]. Die rus-beweging help ons om in ons gejaagde tyd voor God tot rus te kom. Die hoor-beweging help ons om uit verskillende hoeke te luister na God se Woord en die leef-beweging help ons om met ons lewe te antwoord. Elke byeenkoms / persoonlike stiltetyd sal dus onder die hoofde van 1. Rus en ontvang, 2. Hoor en ontgin en 3. Leef en ontplooi ingerig word.
3. Rus en Ontvang – nadat julle gehoor het hoe dit met elkeen gaan, kan julle die Here loof en aanbid met ‘n paar liedere en/of gebede. Haal diep asem, raak rustig en stel jouself oop om die Here te kan ontmoet.
4. Hoor en ontgin
Lees 1 Korintiërs 3:9b-23. Die gedeelte net voor dit (3:1-9) gaan oor mense wat stry oor geestelike leiers, en oor elke geestelike leier se dienswerk. Mense met verskillende en botsende verwagtinge van leiers. Maar dan gaan die gedeelte verder oor God wat laat groei. Hy wat aan elkeen ‘n spesifieke taak en roeping in sy koninkryk gee. Dit gaan oor die tuin of gebou of koninkryk van God het. Vers 16 praat selfs van ons wat die tempel van God is. Wat dink jy bedoel Hy daarmee - dat ons sy tempel is? Dit gedelte handel pertinent oor God se rol (groeikrag) en die plek van Jesus Christus in ons verhouding met God en in ons lewenswandel.
5. Leef en ontplooi
In die gedeelte wat ons saamgelees het, gaan dit veral oor Jesus Christus wat die fondament (fondasie) van Christenskap is. Ook die fondament (Rots) op Wie elke gelowige moet bou. Elkeen het ‘n verantwoordelikheid en ‘n roeping, maar ons bou op Jesus Christus as hoeksteen en fondament.
Ons het verskillende gawes, geleenthede en persoonlikhede en bou dus met verskillende en ‘n verskeidenheid van ‘boumateriale’ in God se koninkryk. Dit gebeur letterlik en figuurlik. Soos die uitreike na Petra en Macia waar ons fisies (help) bou aan die uitbreiding van God se Koninkryk – Kinderevangelisasie en ‘n Bybelskool, maar ook in ons elke dag se lewe waar ons as gelowiges met verskillende gawes en talente bou op die fondament van Jesus en so sy koninkryk help uitbou!
Ons is besig om aan God se ‘tempel’ te bou! Die Gees van God woon in ons en ons is sy tempel! Die Tempel simbiliseer die teenwoordigheid en aanbidding van God. Ons vertoon en werk dus elkeen op ‘n unieke manier om God se liefdevolle teenwoordigheid sigbaar te maak, en mense so aan te raak dat hulle die Here kan verheerlik. Daarom moet ons seker maak dat ons op Jesus se Verlossing en sy Woord as fondasie bou.
6. Administrasie
Maak seker oor julle erediens- en nagmaaldiensbeurte
7. Sake vir gebed
- Bid vir die personeel en studente van Petra in Witrivier en van Volta a Biblia in Mosambiek. Bid veral vir Roger en Lizette Harris by Petra en ds Willem en Carol Nel, Stephanie Herron en pastor Calvin by Macia. Pastor Calvin worstel met sy gesondheid.
- Bid vir die mense in die gebedsbrief of waarvan jy weet wat siek of hartseer is.
- Dank die Here dat jy deel kan wees van sy bouers en van sy bouwerk, en vra Hom om jou so deur sy Gees by te staan, dat jy elke dag aan sy koninkryk kan bou met werk wat sal bly staan. Werk waarop jy en Hy trots kan wees! Laat sy koninkryk kom!!!