1. Lief en Leed: Deel julle lief en leed met mekaar, met die oog op gebed en bemoediging.
2. Ingenooi in God se rus en tyd – Raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid. Ervaar die saamwees in sy teenwoordigheid, en bid saam vir die hoor van Sy stem in sy Woord.
3. Luister na God se Woord – Lees Eksodus 3:1-15. Julle kan selfs die twee voorafgaande hoofstukke deurgaan, vir ‘n beter verstaan van hoe die teks inpas. Watter drie punte staan die meeste vir jou uit? Deel dit met jou groep. (Dis belangrik om na mekaar se idees te luister, ons leer verskriklik baie van ander, dit verryk ons.)
4. Luister na mekaar en die werêld – Bespreek nou saam 5 dinge vanuit hierdie teks:
- • Die tema van hierdie teks?
- • Wat was die situasie van Moses hier?
- • Verkeer ons soms in hierdie selfde posisie?
- • Watter keuse blyk daar vir u uit hierdie teks?
- • Hoe lyk so ‘n verhouding met God?
5. Luister nou weer na die Woord – Moses word deur God geroep om vir Hom op te tree in Egipte. Om die volk Israel te gaan verlos vanuit slawerny. God kom na hom in ‘n brandende doringbos. God doen dit vandag nog. Hy kom altyd eerste na die mens. Ons besprekingspunt hier, is hoe God na die mens toe gekom het, deur Sy Seun se verlossingsdood. Dit is ‘n uitnodiging van God af aan ons, om die verlossing te aanvaar. So metafories gesproke, was Jesus ons brandende bos gewees. God wil hê ons moet ook soos Moses antwoord: Here, hier is ek!
God roep ons almal, soos Moses, om ‘n spesifieke roeping/doel wat Hy vir ons gekies het uit te voer. Baie keer voel ons ook soos Moses, en dink, hoe kan ek ‘n verskil maak? Maar God herinner ons vanuit die teks, dat Hy saam met ons sal wees. Moses-hulle se teken dat hulle, hulle roeping vervul het, sou wees wanneer hulle God op Berg Sinai aanbid. Ons teken, dat ons, ons roeping vervul het, is dan die ewige lewe saam met God. Dit is ook ‘n teken wat eers na die tyd sal kom. Daarom moet ons ook gereed wees, en onsself in diens van God stel. Ons verantwoordelikheid is om die evangelie van God te gaan verkondig.
6. Fokus op wat God doen – Het jy God al geantwoord, en gese: “Here, hier is ek?” Wat dink jy is jou spesiale roeping in die lewe? (Indien jy nog nie weet nie, kan jy daaroor bid, en die groep vra om saam te bid). Is jou lewe ingerig volgens die roeping wat God vir jou bestem het?
7. Antwoord met ons lewe – Gesels oor hoe jy meer tydjie kan afknyp vir stiltetyd, en die lees van die Woord. Watter roetes kan jy volg om God meer deel te maak van jou lewe? Hoe kan jy meer sensitief word vir jou roeping in jou lewe?
8. Bid nou saam – Kom ons vra vir God om ons opnuut op die regte koers te lei, en om Hom te bedank vir al ons seêninge en gawes. Vra God om jou hart weer sag en sensitief te maak vir Sy stem. Vra Hom om al die aspekte in jou lewe te vervul, en Hom aan die Hoof te plaas van jou lewe. Vra Hom om jou te help om in elke situasie jou roeping te kan uitleef. Dank Hom ook vir die Verlossingsfees wat ons met die nagmaal kon vier!
9. Administrasie – Maak seker van die groep se diensbeurte en ander reëlings van belang. Geseënde week vir u verder!. God seën u!