Versoeking stel jou voor ‘n keuse.
Wanneer jy die verkeerde keuse maak is die versoeking ‘n struikelblok.
Wanneer jy die regte keuse maak, is dit ‘n vastrapplek op jou pad van geestelike groei.
Versoeking is die Satan se grootste wapen om jou te vernietig.
Satan sal jou aanval waar en wanneer jy op jou swakste is.
Wanneer jy aan die versoeking toegee, is dit jý wat die sonde doen.
Maar, baie belangrik, omdat Christus Satan oorwin het,
kán alle versoekings weerstaan word,
en van die beste geleentheid tot geestelike groei wees.
Deur versoekings in die krag van die Heilige Gees te weerstaan,
beteken dat jou karakter ontwikkel in die vrug van die Gees – Gal. 5:22.
Jou karakter ontwikkel deur aan die teenoorgestelde karaktertrekke blootgestel te word.
Dit vra byvoorbeeld nie veel om mense lief te hê wat jou liefhet nie.
Dit vra egter karakter om mense lief te hê wat jou te na kom.
God leer jou wat ware vrede is in tye van konflik en versoeking.
Jy leer geduld aan wanneer jy gedwing word om te wag,
en in die versoeking is om selfbeheersing te verloor.
Jy leer wat getrouheid is as jy kon kies om ontrou te wees.
Jy groei in nederigheid as jy hoogmoedigheid moet weerstaan.
Die weerstand teen versoekings laat jou inderdaad groei in geestelike karakter.
Jakobus 1:12 sê:
“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly.
As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang
wat die Here belowe het aan die wat Hom liefhet.”
In die krag van die Gees kan versoeking weerstaan word.
Jy kan nie verhoed dat ‘n voël oor jou kop vlieg nie,
maar jy kan verhoed dat hy op jou kop nesmaak.
Daarom het Martin Luther gesê sy versoekings was sy beste teologiese leermeesters.
Weerstaan versoeking deur die krag van die Heilige Gees.
Dan het jy vastrapplek in die groei van jou geestelike karakter!
Ernest