Hoekom vind mense dit so moeilik om God lief te hê?
Hoekom voel ons ook soms dit is moeilik?
Hoe werk God se liefdesverhouding met ons?

God het aan die mens vryheid gegee.
Dit is een van die belangrikste kenmerke van liefde.
Om te kan kies om lief te hê.
Die oomblik wanneer iemand dink mense wil hulle van hul vryheid ontneem,
skop hulle vas. Hulle verdedig hul vryheid.
Hulle sal die proses ooglopend dwarsboom.
Of hulle sal met ‘n verskuilde agenda besig wees.
Of hulle sal voorgee dat hul aangaan, maar eintlik in hul binneste sterf.
Hulle leef sonder oorgawe en vreugde.

Adam en Eva het die vryheid wat hulle van God ontvang het,
gebruik om te kies teen die beginsels van God.
Teen ware liefde.
Hulle het ook gou besef hulle moet met die gevolge van hul keuse saamleef.
Reeds in Eksodus 20:6 hoor ons:
“…maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag
van die wat my liefhet en my gebooie gehoorsaam.”

Jy het die vryheid om te kies.
Dit is hoe liefde werk.
Jy kan kies om volgens God se wil te leef en Hom lief te hê, of nie.
God het jou oneindig lief.
Hy kies jou.
Maar as jou Skepper verwag Hy van jou
om in liefdesverhouding met Hom te tree op sy voorwaardes.
Baie mense leer lank hieraan.
Dit het Israel 40 jaar in die woestyn geneem, in plaas van ‘n paar weke.

Om God lief te hê, en te aanbid as jou God, en vir Hom te leef,
geskied op sy voorwaardes, en nie op my voorwaardes nie.
God is liefde, en die Skepper van liefde, en weet hoe ware liefde werk.
Is jy in, of uit?

Ernest