Dit is ‘n woord waaroor baie mense nie wil praat nie, sonde…
Beklemtoon eerder die liefde…sê hulle.
Natuurlik is God se liefde en genade oneindig groot.
Maar sonde doen soveel skade dat God radikaal daaroor praat.
En radikaal daarteen optree as jy daarin volhard.

Ons probleem is dat ons nie oornag groot sonde doen nie.
Die Bose sit ons eers net langs die spoor met sy versoekings,
versoekings waaraan óns toegee, en waarvoor óns verantwoordelik is
Maar ons is klaar van die spoor af, al is dit net ‘n klein bietjie.
Dan, wanneer ons gemaklik geraak het met die “klein sondetjies”,
skuif hy ons met verdere versoekings, waaraan óns toegee,
nog verder van die spoor af.
En nog verder, en verder, totdat ons ver van die spoor af is!
Ons dryf net al hoe verder weg van God af,
en kom dit selfs nie eers agter nie.

Wanneer jy nie teen jou sonde optree nie, neem dit eenvoudig net toe.
Dit vermenigvuldig soos kankerselle. Dit word nooit minder nie.
Voor jy weet waar jy is word jou hele lewe daardeur oorgeneem.
Dit is dwaas om te dink dat jy maar met “klein sondetjies” kan voortgaan.
Dwaas om te dink jy kan self beheer hê oor jou sonde.
Indien dit die geval was het Jesus tevergeefs na die wêreld gekom,
om juis aan die kruis te sterf vir jou sonde!

God moes radikaal optree teen die Bose en die sonde.
Hy vernietig dit in Christus aan die kruis.
Daarom moet ons ook radikaal optree teen sonde in ons lewe.
Dit is waarom Jesus gesê het dat jy jou sondige hand moet afsny,
en jou sondige oog moet uitruk. Matteus 18:8-9.
Deur so ‘n radikaal sterk uitdrukking te gebruik wil die Here sê
dat ons alles moontlik moet doen om sonde uit ons lewe uit te roei.

Ons dink nog nie ernstig genoeg oor sonde in ons lewe nie.
Paulus sê dit moet vir jou ‘n saak van lewe of dood wees.
Sonde is vir die Here ‘n belediging.
Sonde bedroef die Heilige Gees en medegelowiges.
Sonde bring oneindige hartseer in die oortreder en geliefdes se lewens.

Ons het ‘n dieper sondebesef nodig.
En ook ‘n dieper gebedstoewyding vir onsself,
en ander wat onder sonde gebuk gaan.
Ons kan die sonde oorwin deur die krag van die Here,
Hy wat reeds die sonde en dood, en die laaste vyand, die Bose, oorwin het.
Gee die volle beheer van jou lewe oor aan die Heilige Gees.

Iemand het gesê een van die grootste van alle sondes,
is die onverskilligheid teenoor sonde.

Ernest