Mense hou nie daarvan om oor die oordeelsdag te dink of te praat nie.
Ons kan dit egter nie uitstel deur dit weg te dink nie.
Miskien pla dit ons nie veel nie.
Ons dink ons sal lankal dood wees voor die oordeelsdag kom.
Feit is, as jy sterf breek die oordeelsdag vir jou aan.
Na sterwe is ons nie meer tydsgebonde nie, en kyk jy die oordeelsdag in die oë.
Dit is onvermydelik en kan nie weggedink word nie.
En niemand weet wanneer jy gaan sterf nie.
Die Leunende Toring van Pisa in Italië gaan eendag omval.
Wetenskaplikes bereken dat die toring elke jaar meer oorleun.
Die toring sal uiteindelik omval op die nabygeleë “ristorante”,
juis daar waar wetenskaplikes deesdae byeenkom om hul uitvindings te bespreek.
Dit is betekenisvol dat die woord “pisa” eintlik “moerasagtige land” beteken.
Dalk is dit ‘n aanduiding waarom die toring begin oorleuen het.
Dit het begin oorleun selfs nog voordat dit voltooi was.
Eendag gaan dit ineenstort.
Dat dit so lank neem om te gebeur, beteken nie dit gaan nie gebeur nie….
So is dit ook met die dag van die Here.
Dit is onvermydelik.
Alle wêreldse dinge gaan verseker aan hul einde kom,
nie net die toring van Pisa nie.
Wanneer Petrus skryf oor die dag van die Here dan sê hy:
“Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom,
moet julle des te meer …aan God toegewy lewe.” – 2 Pet. 3:11.
Dit is waaroor die lewe gaan.
Om aan God toegewy te lewe.
Ernest