‘n Persoon vertel sy geliefkoosde gedeelte in die Bybel is Romeine 16,
die laaste hoofstuk van die Romeine boek.
Verbaas vra die ander hoekom dit so is.
Dit is dan net ‘n lys van name.
Hierop antwoord die persoon:
“Ja, maar hulle is almal mense wat genoem word omdat hulle klein,
maar belangrike insette, in die Here se koninkryk gemaak het.
Die Heilige Gees het hul name laat aanteken,
sodat ons vandag kan weet dat die Here elke gelowige indiwidueel ken,
elkeen liefhet, en elkeen se dienswerk hoog waardeer.”

Dit is baie waar.
Moet nooit jou dienswerk vir die Here gering skat, of onderskat nie.
Paulus begin Romeine 16 deur die vrou Febe aan te beveel.
Hy het gelowiges gevra om haar te help,
en by te staan wanneer sy hulp nodig gehad het, want:
“….sy was vir baie, en ook vir my, tot steun.” – vers 2.
Ons dink dikwels dit is net die mense in “voltydse” diens
van die Here wat belangrike werk doen.
Elke gelowige is in “voltydse” diens van die Here!
Elke gelowige kan vir die Here wonderlike dienswerk doen,
met “groot”en “klein” dade, want alle dienswerk vir die Here is ewe belangrik!

Natuurlik sien ons party se dienswerk makliker raak as die van ander.
Maar vir die Here is daar nie mense wat “agter die skerms” werk nie.
Alle dienswerk is in sy teenwoordigheid!
Moenie min of niks doen, omdat jy dink jy kan net ‘n bietjie doen nie.
Die Here slaan elke stukkie dienswerk wat ons in opregtheid doen baie hoog aan.
Wees getrou in alles wat jy doen.
Jy doen uiteindelik alles in jou lewe vir die Here.

Ernest