Om die Here te dien is so ‘n wonderlike voorreg.
Die skrywer van Psalm 84 besef dit.
Hy was waarskynlik ‘n Leviet wat diens in die tempel verrig het.
Dit wil voorkom of hy nie by die tempel was toe hy die Psalm geskryf het nie.
Die rede vir sy afwesigheid is nie bekend nie.
Dit is egter duidelik dat hy ‘n groot verlange het om daar te wees en die Here te dien.
Hy beny selfs die mossies wat daar kan wees…vers 4.
Hy dink ook in vers 6 aan die pelgrims wat onderweg was na die tempel om daar te aanbid.
Hy bid verder dat God die koning moet seën.
Hy besef dat slegs God sorg vir alle mense!
En dan sê hy dat hy eerder die nederigste taak denkbaar vir die Here by die tempel wil doen,
as om in hoë en belangrike plekke te sit saam met belangrike mense wat nie die Here wil dien nie.
Om die Here te dien is werklik ‘n voorreg.
Ongeag hoe nederig die dienswerk ookal mag wees.
Of dit is om die kerk oop te sluit en gereed te maak, die banke af te stof,
blomme in die kerk te plaas, die Woord te verkondig, tee te skink, of wat ookal.
Party mense doen herstelwerk.
Ander ry mense aan kerk toe.
Nog ander besoek en bemoedig lidmate.
Ander laat die boodskap van die Here doelbewus grondvat in die werkplek.
Hulle leef voluit vir die Here op die markplein van die lewe.
Geen dienswerk vir die Here is gering nie.
Almal en elkeen kan só baie vir die Here doen,
deur eenvoudig alles wat jy doen,
vir die Here te doen!
Ernest