“Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan”
“…nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik,
in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.”
“Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee,
tot voordeel van almal.”
Lees 1 Kor. 12 en ontdek net weer hoe jy verseker inpas
in God se plan en in sy koninkryk met jou gawes en diens.
Geen liggaamsdeel is onbelangrik nie.
Elkeen, elke lid, is nodig om “gelyke sorg vir mekaar te dra.”
Die naam van die uitgestorwe Dodo-voël word dikwels gebruik
om na dwaasheid of waardeloosheid te verwys.
Dié asvaal voël was eintlik onaansienlik, het ‘n lomp liggaam gehad,
ongeveer 16 kilogram geweeg, met ‘n klomp gekrulde vere vir ‘n stert.
Die vlerke het elkeen 3 of 4 swart vere gehad, sy somtotaal van kleur.
Die snawel was krom, bene groot, en pote lomp.
Die voëls is aanvanklik deur hul ontdekkers “walghvogels” genoem,
walglike voëls, as gevolg van hul voorkoms.
Nog ‘n rede vir “walghvogels” was hul vleis.
Hoe langer jy dit gekook het, hoe taaier het die vleis geword.
Die Dodo het op 3 eilande in die Indiese Oseaan voorgekom.
Setlaars het bykans die weerlose voëls uitgewis, totdat, in 1977,
wetenskaplikes ontdek het dat die pragtige “Calvaria”-boom,
wat net op die Dodo-eilande groei,
van die voëls afhanklik is vir hul voortbestaan.
Die boom se sade is baie hard en kon slegs uitspruit
as die sade deur die Dodo se spysvertering beweeg het.
Net betyds is kalkoene na die eilande geneem,
om die 13 oorblywende Calvaria bome te laat voortbestaan.
Die Here maak nie nuttelose dinge nie.
Ook die Dodo, op die oog af nutteloos, was baie belangrik.
So is dit ook in die koninkyk van God.
Elkeen is belangrik in God se plan daarmee.
God het ons daar geplaas “soos Hy dit wou hê.”
In Christus is jou doel van ewigheidswaarde!
Vul jou plek en dien die Here!
Ernest