Ons soek gewoonlik kitsoplossings.
Kitskos, kitskoffie, kitsbank,…kitslewe.
Alles moet teen spoed gebeur.
Ons wil nie wag nie en is ongeduldig met iets wat stadig beweeg.
So is dit ook met ons geestelike lewe.
Ons is meer bekommerd oor hoe vining ons groei,
as wat ons besorgd is oor die kwaliteit waarmee ons groei.
God stel meer belang in hou sterk ons groei.
Net soos dit jare neem om volwasse te raak,
neem dit ook tyd om geestelike karakter te vorm.
Vrugte wat kunsmatig rypgemaak word verloor dikwels hul smaak.
Dissipelskap is tree vir tree in die voetspore van Jesus.
Daarom vra dit volharding.
Ons leer stadig, soos dit Israel 40 jaar in die woestyn geneem het.
Ons leer ou gewoontes moeilik af. Dit vra meer as net ‘n pil of een gebed.
Ons het dikwels nie ‘n leerbare gees nie, en erken moeilik ons eie foute.
Ons gaan stadig deur die pyn van verandering.
Ons neem tyd om nuwe gedrag aan te leer.
Ons val, en staan op, val, en staan op….en bly so leer.
Die belangrike is dat God deur dit alles met ons besig is.
In Goddelike geduld gee Hy nie met ons op nie.
Filippense 1:6 sê:
“Ek is veral daarvan oortuig dat God wat die goeie werk in julle begin het,
dit enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.”
Al voel dit nie altyd vir jou so nie, dit is God wat deur sy Gees in jou lewe werk.
Volhard deur God se wil vir jou lewe te hoor en dit te doen.
So groei jy stadig, maar seker, en sterk.
Groeikrag, eerder as groeispoed.
Ons kan nie haastig wees met die Here in ons verhouding met Hom nie.
Al voel jy soms moedeloos, God bly getrou met jou.
Ernest