Goddelike visie is om die onsienlike te sien.
Het jy in geloof die visie wat God jou wil gee,
ten opsigte van jou lewe vir Hom.
Het jy visie vir die lewe saam met God en vir God?
Visie is daardie gebeure wat deur die Heilige Gees
in die hart van God se kinders gedroom word.
Ons verhouding met die Here skep en voed ons visie.
Dit is in ons diepste innerlike,
waar die Heilige Gees die omstandighede skep,
sodat ons God kan sien, en ons ware self,
en die wonderlike moontlikhede in die lewe,
wat die Here self vir ons kom gee.
Wanneer dit gebeur dink jy dadelik aan Handelinge 2:17:
“…Julle seuns en julle dogters sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.”

Een van ons diepste begeertes is om te voel dat jou lewe iets beteken.
Dat jou lewe saakmaak en nie tevergeefs is nie.
Daarvoor moet ons “gesigte sien” en “drome droom”.
‘n Passie hê vir iets wat groter as jyself is.
Wat kan meer die moeite werd wees,
as om die wêreld rondom jou te verander ter wille van die koninkryk van God.
Op groot skaal, of net in jou klein omgewing….maar ewe belangrik!
Dale Golloway het gesê “visie is die plek waar môre gemaak word.”

God wil vir elkeen van ons visie gee vir ons lewe saam met Hom,
en ons lewe vir Hom. Geloofs-visie is ‘n gawe van God.
Dit is een van die belangrikste maniere waardeur God met mense werk.
Geloofsvisie!
God het baie groter visie vir ons lewe op aarde as wat ons dikwels raaksien.
Ons leef uit ons beperkte visie en laat nie toe dat God ons
die geloofsvisie gee wat Hy vir ons wil gee nie.
Ons dink so klein oor ons lewe vir God en saam met God.
Waarskynlik omdat ons so klein dink oor God….

Stel jou hele lewe en denke oop vir dit wat God jou wil gee!
Romeine 12:2:
“Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie,
maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe.
Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen….”

Gaan dink diep hieroor na,
en begin leef en droom saam met die Here,
ten opsigte van jou lewe!

Ernest