In die Krugerwildtuin kom jy gewoonlik eers op die motors af,
voor jy op die leeus afkom.
Die insittendes sal jou dan vertel êrens tussen die bosse lê leeus.
Die kuns is dan om heen en weer te skuif,
om net tussen die bosse deur iets te sien.
Wanneer jy uiteindelik daar wegry,
ontdek jy dikwels dan jy net ‘n bietjie verder aan,
van ‘n ander hoek, baie beter sou kon sien!
Ons moet dikwels ook die lewe vanuit ‘n ander hoek sien,
om te sien wat ons moet sien.
Ons moet dit vanuit God se hoek sien.
Die Heilige Gees wil ons met God se oë na die wêreld laat kyk.
Hoe doen jy dit? Om met God se oë te kyk?
Jy begin doelbewus onder leiding van die Heilige Gees leef.
Vra die Heilige Gees om jou manier van kyk te verander.
Die Heilige Gees is God in aksie, in ons gees en denke.
Wanneer Petrus op Pinksterdag sê jongmense sal gesigte sien,
en dat oumense drome sal droom (Hand. 2:17),
beteken dit om voortaan, deur die Heilige Gees,
met nuwe oë na die werklikheid te kyk!!
Dit vra dat jy God sal vra om beheer oor te neem van jou denke en jou wil.
Dit is volledige oorgawe aan die Heilige Gees.
Jy maak ‘n keuse om deur eenvoudige dissiplines in en naby die Here te wees,
soos gebed, die Woord van die Here, meditasie oor God se wil,
‘n bewussyn van sy teenwoordigheid,
en om doelbewus in God se teenwoordigheid te leef.
Jy verwyder ook doelbewus dinge uit jou denke en lewe
wat die Heilige Gees weerstaan of bedroef.
Gaan doen dit, en begin al hoe meer en meer deur God se oë sien!
Ernest