As mens nie vir jou doelwitte stel nie,
moet jy nie verbaas wees as jy uitkom waar jy nie wil wees nie!
Dit is ook waar van ons geestelike lewens.
Kolossense 3:2 sê:
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is,
nie op die dinge wat op die aarde is nie.”
Stel dus jou doelwit “daarbo”.
Dit beteken nie om “vreeslik heilig” te wees nie.
Dit beteken om jou voor te neem om
in die krag van Christus ‘n nuwe mens te word.
Laat jou gedagtes beheer word deur die hemelse dinge,
nie deur dinge op hierdie aarde nie.
‘n Chinese gesegde sê:
“’n Mens word wat jy dink.”
Dit is baie waar.
Bedink jy bose dinge word jy ‘n boosdoener.
Bedink jy goeie dinge word jy ‘n weldoener.
Daarom moet jy jou gedagtes rig op dinge wat die nuwe lewe uitbeeld.
Hoe meer jy jou gedagtes op Jesus se voorbeeld rig,
hoe meer sal jy soos Jesus word en doen.
Hoe kan ons dit regkry om soos Jesus op te tree?
Kol. 3:3 sê ons moet onthou dat ons gesterwe het!
Ons het, en moet steeds onsself deurgaans verloën in navolging van Jesus.
So skuif ons eie belange eenkant toe.
So sal ons die lewe behou.
Dit is om saam met Christus te sterwe,
en saam met Hom op te staan!
Dit is die nuwe lewe.
Daarop moet ons ons gedagtes rig.
Ernest