Bly by my Heer

“Bly by my Heer” is een van daardie aangrypende Christelike liedere
wat jou dikwels die teenwoordigheid van God laat beleef.

Eerwaarde Henry Francis Lyte was op die rand van moedeloosheid.
Jaar na jaar het hy in sy klein kerkie gepreek.
Hy het sy gemeente met toewyding versorg.
Maar niks het gebeur nie.
Sy gemeente was steeds liefdeloos, ongelowig en twisgierig.
Hyself het volgens die dokter nog net ‘n paar maande gehad om te leef.
Hy het in sy Bybel geblaai tot by die gedeelte in Lukas 24:28-29,
oor die Emmausgangers.
Hulle het Jesus gevra om nie verder te gaan nie,
maar om by hulle te bly omdat dit al aand was.
Die Here het dit gedoen, en saam met hulle die brood gebreek.
Hulle oë het oopgegaan en hulle het sy teenwoordigheid ontdek!

Skielik het hy krag gekry om sy omstandighede te aanvaar.
Om sy gemeente te aanvaar en die sin in sy lewe te ontdek.
Onder hierdie ervaring het hy gaan sit,
en die treffende lied “Bly by my Heer” geskryf.

Ons almal kan by ‘n punt van moedeloosheid kom.
Die lewe kan jou platslaan in ‘n oogwink.
Jy kan voel jy is aan die einde van jou krag.
Dan kan jy net opnuut bid: “Bly by my Heer…”
Ontdek net weer God se teenwoordigheid in jou lewe!
Gaan lees gerus weer die woorde van Liedboek 582,
en bid dit,
en leef daaruit.

Ernest