Keiser Nero het naderhand almal om hom begin verdink van sameswering.
Seneca, die Stoïsyn, en vertroueling van Nero, het ook aan die beurt gekom!
Nero het hom van verraad beskuldig en hom beveel om selfmoord te pleeg!
Nero het hom ook nog die reg ontsê om ‘n testament op te stel.
Seneca het net na sy familie gedraai en gesê:
“Ek laat vir julle na die beste ding wat ek het, my lewenswyse.
Moenie angstig of vreesagtig leef nie.
Wees vergenoegd, en omhels só die lewe.”
Paulus het self gesê:
“Ek het geleer om altyd vergenoeg te wees
met die omstandighede waarin ek is.” Fil. 4:11.
Om vergenoeg te wees is nie om apaties te wees nie.
Dit is om te midde van die moeilikste omstandighede
nié toe te laat dat jou omstandighede oor jou die oorhand kry nie.
Dit is ‘n lewensstyl van oorwinning oor jou omstandighede.
Jesus het ook aan sy volgelinge gesê:
“My vrede laat Ek vir julle na.” Joh.14:26.
En Hy sê dit kort voor sy kruisiging!
Toe die dissipels beangs agter slot en grendel sy kruisdood bespreek,
staan Hy weer tussen hulle en sê: “Vrede vir julle.” Luk.24:36.
Vrede, innerlike kalmte, vergenoegdheid,
word die bron waaruit energie kom om te léwe.
Vergenoegdheid met jou omstandighede,
beteken om die teenwoordigheid van die Here daarin te beleef.
Die Immanuel-waarheid!
God is by jou, in jou, om jou, vir jou.
Vergenoegdheid is om te leef in die bewussyn van die nabyheid van God.
Dit is om God te vertrou om dáár te wees waar jy jou bevind,
selfs in die moeilikste omstandighede.
Dit is nie hol, leeg of afgesaag nie…..
Het jy die Evangelie hierin getoets en dit onbetroubaar bevind,
óf leef jy nog nie sáám met God in jou omstandighede nie?
Lééf vergenoeg!
Ernest