Lillian Watson vertel in Light From Many Lamps die verhaal van Harold Russell.
Hy was ‘n Amerikaanse valskermsoldaat in die Tweede Wêreldoorlog.
Hy is in ‘n oefening beseer en het altwee sy hande verloor.
Hy het hulpeloos en nutteloos gevoel, vermink en kreupel.
‘n Veteraan uit die Eerste Wêreldoorlog, wat self altwee sy hande verloor het,
het hom besoek om hom moed in te praat met die woorde:
“Die struikelblok wat jy moet oorkom is nie jou gebrek nie, maar jouself.
Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar wat jy oorhou.
Jy is nie ‘n kreupele nie, maar ‘n gestremde.
Dít moet die verskil in jou lewe maak.”

Russell het later in ‘n woordeboek die verskil tussen die twee woorde gaan naslaan.
“Crippled” – beteken ongeskik, onbekwaam om korrek en effektief te funksioneer.
“Handicapped” – beteken enige nadeel of hindernis,
wat sukses in ‘n onderneming moeiliker maak.
Russell het ontdek hy sou nog steeds sukses kon hê.
Dit sou net moeiliker wees om dit te bereik.
Dit is nie wat hy verloor het nie, maar wat hy óórhou, wat tel!
Hy het sy lewe, sy verstand, sy bene, geliefdes, geleenthede…
Hy sou van nou af veg met wat hy oorgehou het!
Hy het later ‘n Akademie-toekenning gekry as filmster.
Hy het ‘n beroemde skrywer geword, en motiveringsspreker.
Sy pad was dalk steiler, maar sy oorwinning groter, sy lewenssin dieper.

Leef vergenoeg, oorwinnend en sinvol met dit wat jy het.
Moenie jou lot bly kla oor dit wat jy nié het nie, of verloor het nie.
So gaan die lewe en geleenthede by jou verby om voluit te lééf.
Jesus sê in Markus 8:36:
“Wat help dit ‘n mens tog,
om die hele wêreld as wins te verkry,
en sy léwe te verloor.”

GK Chesterton het gesê ware vergenoegdheid is die vermoë om uit enige situasie,
hoe positief of hoe hulpeloos ook al, die beste te kry wat daaruit te kry is.
Dit is om die lewe en geleenthede uit te koop,
met wie jy is,
en wat jy het!

Ernest