Die vyand het bly aanstorm, ry op ry op ry.
Dit was al die hoeveelste aanslag.
Niemand kon dit buite die stad waag nie.
Kosvoorrade in die stad was al kritiek min.
Duisende en duisende mense in die stad vasgekeer.
Gaan dit end kry? Is daar uitkoms?
Gaan hulle op skerppuntpale deurboor word vir die aasvoëls?
“Hoe lank nog Here?” het Habakuk uitgeroep.
Habakuk het sommer sy hele hart uitgestort in die wagtoring:
“Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here,
moet ek by U bly kla…..voordat U red?
Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word,
waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?...”
Habakuk 1:2-3.
Habakuk kry sy antwoord later in 2:2-3.
Dit geld net vir ‘n bepaalde tyd.
Habakuk moet net geduldig bly wag as die uitkoms nie gou kom nie.
Maar dit kom verseker. Dit sal nie uitbly nie.
Of dit voorspoedig gaan, of baie sleg, ook dít sal verbygaan.
Dat ook voorspoed verbygaan, demp jou hoogmoed en voorspoedneurose.
En wanneer dit uiters sleg gaan, wéét dit; ook dit sal verbygaan!
Later sal die pyn van die huidige ervaring dowwer wees, die intensiteit laer.
En wees in dit alles verseker dat God NOU by jou is!
Dit het Habakuk se noodkreet omgesit in sekerheid,
sekerheid van God se teenwoordigheid:
“Al sou die vyeboom nie bot nie,
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie,
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder!
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” Hab. 3:17-19.
“Nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God,
my Redder!”
Ek weet verseker dat God NOU by my is!
Ernest