Die kerk kan nie stilbly oor politiek en geld nie.
Dikwels sê mense die kerk moet nie politiek en geld praat nie.
Feit is dat die Here self baie hieroor te sê het.
Die kerk is die Here se profetiese stem hieroor.
Gelowiges is die Here se stem, en gelowiges is die kerk.
Dit is om hierdie rede dat Jesaja ook nie kon stilbly hieroor nie.
Die Heilige Gees dryf hom om God se stem te laat hoor.
As ons dink oor die werk wat ons gaan doen, en hoeveel geld ons gaan maak,
moet ons nie die Here daarin vergeet nie.
Jesaja 1:3 sê: “
‘n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy baas,
maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie.”
Die Here sê Hy het hulle soos kinders grootgemaak, opgevoed en versorg.
Maar nou vergeet hulle Hom, en is daarom dommer as ‘n bees of ‘n donkie.
Ons moet onthou dat ons op aarde met God se geld en God se mense werk.
Ons is God se verteenwoordigers wat die hemel se sake op aarde moet bedryf.
Daarom spreek Jesaja die mense aan wat heel voorspoedig lewe,
en tog weinig vir hul medemens omgee.
Dit laat die Here in Jesaja 1:11 sê dat Hy niks het aan hulle offers nie,
en dat Hy sat is vir hulle brandoffers! Dit staan Hom nie aan nie!
Dink jou die prentjie in:
Op ‘n Sondag gaan ons kerk toe. By die deur staan ‘n man wat sê stop dit.
Dit maak die Here naar. Die Here is moeg vir ons kollektes en kerkhouery.
Hy word siek van ons gebede en preke. Dit is wat Jesaja gedoen het!
Want solank ons in die politiek, ekonomie en regbank leef asof God nie bestaan nie,
help ons godsdiens niks nie. Daarom sê vers 15:
“As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,sal Ek nie luister nie….”
Ons alledaagse lewe is vir die Here net so belangrik as ons kerkgaan en aanbidding.
Aanbidding is om met jou hele lewe die Here te aanbid.
Jesaja praat met ons persoonlik.
Wat doen ék met my geld?....wat aan God behoort!
Wat doen ék in terme van die reg?...by ‘n stopstraat, of met my belasting.
Hoe behandel ék alle ander mense?...wat voor my staan met ‘n oop hand,
of wonde wat verbind moet word, of verslete klere….
Die vraag is nie wat die regering of die kerk doen nie.
Die vraag is wat ék doen.
Ek staan voor die Here.
Ernest