Jesaja 1:16-17 sê ons moet ons was en reinig, dan kan ons weer voor die Here kom.
Ons moet ophou om kwaad te doen, leer om weer goed te doen,
en omgee en sorg vir mense in nood, soos weeskinders en weduwees byvoorbeeld.
God steur Hom nie aan kerkvroomheid nie, maar wat ons doen as ons uit die kerk is.
God wil die saak uitmaak. Vers 18 sê:
“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here….”
God sê as’t ware: Ek sal saam met julle kerk hou as julle daarbuite vir my lewe.
Baie maklik het godsdiens net te make met kerkgaan, Bybellees en bid.
Jou verhouding met die Here het egter alles te make met hoe jy mense behandel.

Jesaja se mense het gedink hulle kerkgaan beteken dat alles goed en reg is.
Maar Jesaja noem Jerusalem se kerkmense God se vyande en teëstanders.
Hulle gee nie om vir ander mense nie en doen eenvoudige mense tekort.
God se eintlike vyande is mense wat voorgee dat hulle God ken,
maar dan nie doen wat Hy vra nie.

God sê in vers 24 Hy sal afreken met sy teëstanders.
Maar tog veroordeel God ons nie. Hy oordeel ons.
Sy harde woorde is nie om ons te vernietig nie,
maar om ons terug te bring na Hom toe.
Daarom kan en moet ons terugkom na die Here,
ten opsigte van hoe ons teenoor ander mense lewe.
Ons het die keuse, en God laat ons nie in die duister oor ons keuse nie.
As ons Hom kie,s gee Hy ons die lewe, en waarborg dit met sy almag.
As ons teen Hom kies met die manier waarop ons lewe,
stuur ons op die afgrond af…

God glo in die krag van sy liefde!
God is immers liefde! 1 Joh. 4:8.
Daarom dwing God jou nie. Iemand wat tot ‘n besluit gedwing is,
kan nie geesdriftig daaroor raak nie.
Maar wanneer jy uit vrye wil kies, gedring deur die liefde van die Here,
sal jy geesdriftig daarvoor lewe.
God gebruik met ons geduld en baie liefde.
God vra ook van ons geduld en baie liefde vir mense.
Jesaja sê: Sorg en gee om vir mense,
soos God sorg en omgee vir jou.

Ernest