Ons almal het swakhede en gebreke en tekortkominge.
Nogtans getuig baie gelowiges hoe hul swakhede ‘n seën geword het.
Die rede is omdat hulle, ten opsigte van hul swakhede,
soveel meer op die Here leer vertrou het.
Deur hul swakhede te erken, en voor die Here daarmee te worstel,
getuig gelowiges dikwels hoe hulle, juis hierin, God se genade en krag ondervind.

Ons sien ook hierdie verband tussen onvolmaaktheid en groei in die natuur.
So sê wetenskaplikes byvoorbeeld dat min dinge
beter en meer ordelik ontwikkel as kristalle.
Elke tipe mineraal en edelsteen het sy eie spesiale vorm en voorkoms.
Elkeen is opgemaak uit ‘n hele aantal atome,
wat op ‘n volmaakte wyse opeengestapel is.
Tog gebeur dit soms dat een van hierdie deeltjies verskuif en uit pas raak.
Dit is ‘n noodsaaklikheid vir die ontwikkeling van die kristal.
Die meeste edelstene het hulle pragtige kleure aan hierdie gebreke te danke.

Ons moet nie bly fokus op die foute in ons lewe nie.
Ons moet ons ook nie te veel daaroor bekommer en perspektief verloor nie.
Ons moenie toelaat dat hierdie gebreke ons onderkry nie.
In plaas daarvan moet ons die gebreke voor die Here erken,
en dit in gebed na Hom bring,
en Hom vertrou om ons oorwinning daarin te gee.
Psalm 138:8:
“Die Here sal vir my alles goed laat afloop.”

Ernest