Dikwels stel ons uit om sekere dinge te doen.
Moontlik omdat dit nie aangenaam is nie, of nie belangrik genoeg nie.
Ons stel selfsa dinge uit totdat dit nie meer saakmaak nie.
Daar is goeie uitstel en daar is slegte uitstel.
Jy sal self weet dat jy in groot moeilikheid
gaan beland as jy belangrike dinge bly uitstel.
As jy byvoorbeeld bly uitstel om aandag en tyd te gee
aan iemand vir wie jy lief is, gaan die verhouding
groot skade ly en jy kan selfs die persoon verloor.
Dit is slegte uitstel.
Die Here het self gekies om iets nie “gou” te doen nie,
maar dit in genade uit te stel, naamlik om weer na ons toe te kom.
2 Petrus 3:9-10
“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie,
al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle,
omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie:
Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.
Maar die dag van die Here sal…..kom.”
Daar is wel ‘n keerdatum vir hierdie goeie uitstel.
Daarom is daar ook aan goeie uitstel ‘n grens.
Oor sekere dinge vra die Here dat ons dit nié sal uitstel nie!
Oor ons sonde sê die Here met dringendheid:
“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak…” Jes.1:18.
Moenie uitstel in jou verhouding met die Here nie.
Hebreërs 4:7:
“Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie”
Die Heilige Gees praat voortdurend met ons.
Luister na Hom en gehoorsaam Hom.
Moenie hardkoppig wees en bly uitstel nie.
Ernest