Wanneer ‘n gelowige oor prioriteite nadink,
is die vraag wat regtig belangrik is.
As gelowige kan ek nie die Here ook maar net op my lysie plaas nie.
Op jou lys sal jou visie vir jou lewe wees.
Jou beginsels sal ook baie tel.
En jy sal doelwitte daarop hê.
Verhoudings sal ook vir jou baie belangriker wees as geld en goed.
Hoewel geld en goed makliker hanteer word as verhoudings…
Maar die Here is nie maar net nog ‘n punt op die lys nie.
Sy wil is die kern waaruit jou prioriteitslys sal funksioneer.

Jesus het vir sy volgelinge ‘n beginsel gegee
waarvolgens hulle prioriteite kon opstel.
Daardie beginsel help om te besef dat belangrike beginsels
voorrang moet geniet bo dringende sake en take.
Jy het altyd dringende sake en take wat jy moet klaarmaak.
Maar, en dit is die punt, belangrike goed is nie noodwendig dringend nie,
maar baie belangriker as die dringende goed!
Daarom is belangrike goed hoër op die prioriteitslys as dringende goed.
Dringende goed laat jou reaktief optree.
Dit laat jou voel daar is te min tyd.
Belangrike goed help jou om pro-aktief te wees.
Dit laat jou jou tyd effektief hanteer.
Dit gee jou lewensvervulling.

Wat is die beginsel wat Jesus gegee het?
Dit is Matteus 6:32-33:
“Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God,
dan sal hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Dit is nie vaag nie.
Die Heilige Gees help jou om die wil van God te onderskei,
veral in terme van wat belangrik is, en wat dringend is.
Laat doelbewus toe dat die Gees jou lei.

Ernest