Ons is so versigtig met dit wat in ons monde ingaan,
maar steur ons dikwels min aan wat uit ons monde uitgaan.
Ons eet of drink nie sommer enige iets nie.
Ons sorg dat dit skoon en gesond is.
Maar wat uit ons monde uitgaan in terme van woorde,
is dikwels vuil en onrein en dwaas.
Die Bybel leer ons dit is baie belangrik wat uit jou mond uitgaan!
Spreuke 15 praat van dwase mense wat net dwase dinge sê.
Die woord wat daar vir “sê” gebruik word,
beteken dat iets na buite ontplof!
Die Engels vertaal dit met “pours forth”.
Roekelose beskuldiginge, bitsige en beledigende woorde,
en vuiltaal kan baie groot skade aanrig.
Daarom het Paulus reguit gesê:
“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie.” Ef. 4:29.
Hy sê ook ons moet nie vloek of skel nie, vers 31,
en nooit verbitterd of opvlieënd wees nie, of woedend word nie.
Ons tas so maklik mense in hul karakter en menswees aan
met dit wat ons sê, sonder om te dink.
Dit wat uit jou mond kom, moet net opbouend en opreg wees.
Ons is versigtig met wat in ons mond ingaan, en dit is reg so.
Maar om God te eer moet ons beheer uitoefen
oor dit wat uit die mond uitgaan!
Dink voor jy praat!
Ernest