Jou planne kan dikwels heel deurmekaar loop.
Die meeste van ons is dan hoogs gefrustreerd.
Soos wanneer jy as gevolg van ‘n vertraging van vlugte
op die lughawe moet sit en wag vir ure.
Wat is God se hand daarin?
Wat is die geleenthede daarin?
Soos ‘n persoon wat so op die lughawe gesit en wag het,
en toe met gelowiges van Indië begin gesels het.
Uiteindelik het hy en sy maatskappy by sendingwerk in Indië betrokke geraak!
Was dit nie ‘n Goddelike afspraak nie!?

Ons beleef dikwels vertragings, planne wat onverwags verander moet word,
en nuwe rigtings wat ingeslaan moet word.
Is dit probleme, of Goddelike geleenthede?
Het Paulus nie gesê ons moet die beste gebruik maak van elke geleentheid nie?
God mag jou met ‘n doel op ‘n ompad lei,
omdat Hy jou beplan om iets onverwags vir Hom te doen.
Of omdat Hy jou bewaar van iets waarvan jy nie weet nie.
Of omdat daardie rigting vir jou op die langtermyn sy seën gaan meebring.

Paulus reis in Handelinge 16 na Filippi.
Hy het na Masedonië gegaan as gevolg van ‘n visioen van God!
Hoe kon hy ooit vooruit weet dat hy daar in die tronk sou beland?
Maar selfs dit was deur God beskik.
Dit moes gebeur sodat hy die evangelie aan die
tronkbewaarder en sy gesin kon bring.
Deur sy gevangenskap in ‘n aardse tronk,
is ‘n bewarder en sy gesin vir ewig vry!

Soek en onderskei die geleenthede wat God op jou pad bring,
deur dit wat jy dikwels net sien as verleenthede.

Ernest