Matteus 6:10 sê:
“Laat U koninkryk kom; laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”
Ons het God se wil baie ingewikkelder gemaak as wat God sy wil aan ons openbaar.
God se wil in sy Woord is nie ‘n misterie wat ontrafel moet word nie.
Die probleem is dat ons self God se wil stelselmatig verander het tot:
“God se wil vir mý lewe.”
Dit klink op die oog af reg en mooi.
Die probleem is dat God se wil vir mý lewe,
maklik die fokus op mý plaas, in die soeke na sy wil.
As ek egter ingestel is op God se wil en sy wil alleen,
dan is my vrae, en leefstyl, en denke, en dade, en optrede ánders,
as wanneer ek vra wat God se wil vir mý lewe is.
Dan verskuif my fokus volledig en eksklusief na God.
Die vraag na God se wil vir mý lewe gaan oor God se planne
vir my werk, my blyplek, my huwelik…..
Dan gaan dit oor mý en hoe God se wil vir mý moet werk.
Dan het ek soveel meer vrae, opstand, teleurstelling en onsekerheid,
want ek fokus op myself in plaas van op God!
God se wil gaan eksklusief oor God se wil!
Sy wil gebeur van ewigheid af reeds in die hemel.
Daar is nie noodvergaderings in die hemel oor alles wat hier verkeerd loop nie.
Daar beskik Christus oor al die mag aan die regterhand van God.
Daar voer God in sy almag eenvoudig sy raadsplan uit.
Vandaar, en hier, is God volkome in beheer om sy wil te laat geskied.
Daarom is God se wil meer eenvoudig as wat ons dit wil maak:
Ons word doelbewus deel daarvan deur te bid:
“Laat U koninkryk kom; laat U wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel”,
en dan doelbewus so te gaan leef dat sy koninkryk,
ook deur ons, grondvat in hierdie wêreld.
Ernest