Wanneer jy bewustelik in God se teenwoordigheid leef,
dan raak jy verleë oor jou gedurige kleingeloof en klagtes.
Christus is die Here!
Hy troon bo die ganse heelal!
Hy is die oorsprong van alles wat God mooi en goed gemaak het.
Hy is ook die Instandhouer daarvan!
Paulus beskryf dit in Kolossense 1:15-20.

Nogtans buig Hy steeds laag om ons op te tel.
Hy gee nooit sy duurgekoopte eiendom prys nie.
Nooit laat Jesus God se kinders alleen nie.
Nooit laat Jesus God se kinders deur sy vingers val nie.
Beleef jy dit in jou alledaagse lewe?

Om God se stem te hoor, en sy vingerafdrukke in hierdie wêreld te sien,
vra ‘n geoefende geloofsoog, en ‘n fyn ingestelde gehoor.
Leer om Hom te dien binne die normale ritmes van elke dag.
Maar verwag Hom ook in die onverwagse oomblikke waarin Hy jou verras.
Die God van hemel en aarde sien klein en weerlose mense raak,
wat onverskrokke aanhou glo, ten spyte van haglike omstandighede.
God se wil word dikwels raakgeleef in die alledaagse lewe van modder en roet.

Beleef hoe die hemel aan die aarde raak,
omdat God se koninkryk steeds daagliks besig is om te kom!
Beleef hoe God se teenwoordigheid grondvat in jou eie lewe!

Ernest