Hoe ouer ons word, hoe meer reseptors vir vrees ontwikkel ons in ons brein.
Ons leer onsself om banger te word namate ons ouer word.

Hoe meer ons vrees probeer beveg deur dit te onderdruk of te ontken,
hoe sterker groei dit in ons onderbewussyn.
Om vrees te probeer vermy, werk nie op die langtermyn nie.

Maar het jy geweet, een van die sinne wat die meeste
in die Bybel voorkom is “moenie bang wees nie”.
366 keer weerklink dit op die bladsye van die Bybel!
Meer as een keer vir elke dag van die jaar!
God sê dit oor en oor vir ons!
Dit is teen God se wil dat ons bang moet wees.
Vrees is een van die grootste geloofsdiewe in ons lewe.

Die oplossing is om vrees te herken, en dit elke keer na die Here toe te vat.
Die antwoord is om vrees kleiner te sien as wat jy God sien!
God troon uit bo elke probleem in my lewe wat vrees in my lewe veroorsaak.
Ek moet leer om op te kyk na God toe,
en af te kyk op die dinge wat my bang maak in die lewe.

Franklin D Roosevelt het gesê ons hoef niks te vrees nie,
behalwe die feit dát ons vrees.

Nog baie belangriker is wat God daaroor sê in Jesaja 41:10:
“Moenie bang wees nie,
Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God.
Ek versterk jou,
Ek help jou,
Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.”

Ernest