Jesaja 55:2 sê:
“…Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is
en versadig kan word met die beste wat daar is.”
God se Woord is ons kos om te lewe.
Dit is ons enigste lewe.
Dit is deel van ons geestelike metabolisme.
God se Woord laat ons lewe.
Sonder die Here se Woord is ons in die duister gestrand.
Maar om bloot al hierdie waarhede te beaam is nie genoeg nie.
Om die Bybel deel van ons daaglikse dieet te maak moet ons dit lees.
Ons moet dit goed oordink en dan gaan doen!
Lees alleen is ook nie goed genoeg nie.
Ons koppe word ook gevra.
Ons moet oor die Woord nadink en reflekteer.
Ons moet die Woord verskuif van ons koppe,
na ons harte, en weer na ons koppe.
Ons moet dit lees, biddend oordink, en oor en oor uitleef.
Vanaf ons harte, na ons gedagtes,
na ons vingers, voete, lippe en tonge.
Uiteindelik moet die Woord ons ganse lewe deursuur,
soos goeie hemelse suurdeeg.
Om die Woord van God te leer ken vra toewyding, “commitment”.
Daar is nie kortpaaie op die roete saam met die Heilige Gees nie.
Daar is net die pad saam met die Gees, soos die Gees wil!
Die roete van lees, oordink en doen, oor en oor, soos brood vir lewe.
Dan skuif die Woord tot in die sentrum van ons lewe.
Dan begin ons God se wil verstaan en uitleef.
Dan raak sy Woord soos heuning op ons lippe.
Nooit sal ons dan genoeg daarvan kry nie!
Watter rol speel die Woord van God in jou lewe?
Ernest