Jakob was aan die vlug voor sy broer Esau.
Hy was op pad na ‘n onbekende land met onbekende mense.
Hy was in groot krisis.
As Esau hom kry, sou Esau hom doodmaak.
Sou hy veilig wees in die onbekende?
Sou hy die pad kry?
Sou hy ooit weer kon terugkom na sy familie en grond?

Toe kom hy by ‘n plek aan waar klippe in ‘n sirkel gepak is.
Uitgeput het hy onder ‘n bos ingekruip,
en een van die klippe onder sy kop gesit.
Hy het aan die slaap geraak en gedroom:
Net hier waar hy is, is die voet van ‘n leer.
Bo-aan die leer sien hy God staan.
Met die leer langs klim engele op en af.
Hy droom dat God in Genesis 28:15 vir hom sê:
“Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ookal gaan….”
Toe hy wakker skrik was sy woorde in vers 16:
“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
Die Ou Vertaling het gesê: “Dit is die poort van die hemel.”
Waar hy sy grootste krisis en onsekerheid beleef, dáár is God.

Vir Jakob was die klipkring maar net ‘n rusplek in sy vlugtog.
‘n Gewone onveilige rusplek op sy moeilike en onseker pad.
‘n Plek waar hy onrustig in moegheid en lewenskrisis sy kop neerlê.
Maar skielik besef hy dié onwaarskynlike plek,
is die fokuspunt van God se teenwoordigheid!
God is dáár, by hom, en hy het dit nie besef nie.

In jou ellendigste omstandighede kan jy,
as kind van God, wéét, God ís dáár, bý jou!
Jy is die fokuspunt van God se teenwoordigheid.
Dit is vir jou ‘n “poort na die hemel.”

Ernest