Is hierdie woorde van Paulus vir jou leë woorde?
Romeine 8:37:
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars
deur Hom wat vir ons liefhet.”

‘n Man wat deur groot lewenskrisisse gegaan het,
het sy leraar gekonfronteer:
“Julle geprekery oor ‘n God van liefde,
en dat ons in Hom meer as oorwinnaars is,
is soos die flitsende neonlig op die dak van ‘n gebou.
Daar staan dit om mooi te lyk, die mooi frases,
maar as jy afkyk aarde toe sien jy die grys staalkas waarop staan:
“Hoogspanning-Lewensgevaarlik”.
Ons leef in die lewensgevaarlike hoogspannings area.
Die teks is daar bo, die neonlig…God is daar bo.”
Die leraar het geantwoord:
“Jy moet nie van die neonlig afkyk nie,
maar van die hoogspanningskas af opkyk.
In die hoogspannings area staan ‘n kruis.
Die kruis is ín die hoogspannings area geplant.
God het na die hoogspannings area op aarde gekom,
en die kruis hier kom plant.
As jy dán opkyk, verstaan jy die neonlig wat sê dat ons meer
as oorwinnaars is deur God wat ons liefhet.
God kom in die kruis sáám ly, en Christus ly vír ons,
in die hoogspannings area.”

Die lewensgevaarlike hoogspannings area is die poort na die hemel.
Die hoogspannings area is die voet van die leer na die hemel.
Die kruis is die verbindingspunt tussen die flikkerende teks,
en die wrede werklikheid wat ons soms beleef.
Die fokus van God se teenwoordigheid by jou!
Jy kan nêrens gaan waar God nie teenwoordig is nie.
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars,
deur Hom wat vir ons liefhet”.
Lééf uit die werklikheid:
In Christus is jy inderdaad meer as oorwinnaar!

Ernest