‘n Aspirant skrywer vertel dat dit baie ontmoedigend is,
as jy die volgende boodskap van die uitgewer kry:
“Baie dankie. Ongelukkig voldoen u voorlegging nie
in hierdie stadium aan ons vereistes nie.”
Dan weet hy sommer dit beteken meestal:
“Nie in hierdie stadium of ooit nie.”
Dan probeer hy maar weer ‘n ander uitgewer,
en weer ‘n ander…

Toe ontdek hy egter dat dit tog ook in sy
geestelike lewe vir hom veel kan beteken.
Hy het hierdie teleurstellende frase omskep in iets positief in sy lewe.
Dit help hom om sy denke weer op die Here te fokus.

Byvoorbeeld; wanneer hy hom bekommer oor iets,
dan herinner hy homself:
“Bekommernis voldoen nie in hierdie stadium aan my vereistes nie,
en dit sal nooit nie.
Ek wil God vertrou en oor niks besorg wees nie” Fil.4:6.
Wanneer jaloesie byvoorbeeld in sy hart inkruip, dan herinner hy homself:
“Jaloesie voldoen nie in hierdie stadium aan my vereistes nie,
en dit sal nooit nie.”

So kan ons op ‘n eenvoudige manier God se Woord met ons lewens integreer,
en nuut dink oor die omstandighede, of ‘n wyse van denke waarmee ons besig is.
Ons kan so toelaat dat God deur sy Gees ons denke vernuwe.
“Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” – Rom. 12:2.
Die Gees van God vernuwe ons denke,
wanneer ons die Woord van God oordink.

Laat God jou verander deur jou denke te vernuwe!

Ernest