Ons “realistiese” denke bevraagteken meestal
dat jy baie met min kan doen.
Ons dink ons het meer nodig om groter te gaan.
Ons het meer geld en hulpbronne nodig om meer te maak.
Maar by God is dit, in sy werkwyse, nie van belang nie.
Ons ken die gebeure van Jesus met die 5 brode en twee visse.
Maar die Bybel is vol van sulke geleenthede.
In Rigters 3:31 lees ons van ‘n redelik onbekende persoon,
met die naam van Samgar,
wat Israel uit die hand van die Filistyne verlos het,
deur ses honderd Filistyne met ‘n stok dood te slaan!
Hy het dit alleen gedoen en ‘n groot oorwinning behaal.
In Eksodus beveel God vir Moses om die volk uit Egipte te lei.
Hy is egter baie bang dat die mense nie na hom sal luister nie.
God vra dan aan hom:
“Wat is daar in jou hand?”
Moses antwoord:
“’n Staf” – stok. Eksodus 4:2.
Moses het toe voortgegaan en daardie staf gebruik
om die volk te oortuig om hom te volg.
Daarmee is die Nylrivier in bloed verander,
al die plae oor Egipte gebring, die Rooi See oopgemaak,
en baie wonderwerke in die woestyn gedoen.
Samgar se stok en Moses se staf (stok),
is in God se hand magtige instrumente.
Die Here gebruik die oënskynlike min in ons hand,
om groot dinge te doen,
wanneer ons dit wat in ons hand is,
aan Hom toevertrou!
God vra toewyding en gehoorsaamheid.
Hy doen die res!
Ernest