Soms pak jy iets aan, en is later moedeloos dat jy dit begin het.
Dit voel vir jou of dit dan eers slegter gaan, maar later word dit beter.
Jy besef jy moet deurdruk en uiteindelik die ding suksesvol afhandel.
Dink maar aan die skoonmaak en regpak van jou motorhuis,
of studeerkamer, of kantoor, of pakkamer.
Dit is naderhand heeltemal chaos, op die oog af.
Dit lyk naderhand tien keer erger as wat dit was.
En dan, gaandeweg begin jy die oorhand kry,
en later is jy so bly jy het dit uiteindelik gedoen.
Toe die Here Moses geroep het,
om die Israeliete uit hul slawerny te bevry,
het die situasie ook eers al hoe slegter geword.
Dit was iets wat gedoen móés word.
Die volk het desperaat tot God geroep.
Hulle het om verlossing gepleit – Eks.2:23.
Moses was ook aanvanklik baie traag,
om na die Farao te gaan en namens die volk te praat.
Moses se pogings het nie goed verloop nie.
In plaas van om die volk vry te laat,
het die Farao hulle werkslas net swaarder gemaak.
Hy het onmoontlike eise gestel.
Eksodus 5:22-23 sê dit het Moses laat wonder….
Moes hy ooit die saak begin het?
Dit was eers na baie probleme vir baie mense,
dat Farao ingestem het dat die volk kan trek.
Ons begin ook dikwels iets goeds,
en is seker die Here wil hê ons moet dit doen.
Ons moet egter nie verbaas wees as die situasie eers slegter word nie.
Ons moet volhard as ons oortuig is dit is die Here se wil.
Moenie moedeloos word nie.
Dat dit eers slegter gaan,
is nie noodwendig ‘n bewys dat ons verkeerd gehoor het,
of besluit het nie.
Verbetering sal intree.
Hou God se wil en jou visie daarmee in die oog.
Wanneer ons God se wil doen,
kan ons teenstand van die wêreld verwag.
Allerhande mense en dinge waardeur die Bose werk,
en brieke op die proses wil sit.
Dit herinner ons in elk geval
dat ons van God afhanklik is in die doen van sy wil!
Moenie moedeloos word nie.
Volhard vir die Here!
Ernest