Jy is geskep om God en jou medemens te dien.
Die meeste mense vind dit eers laat in hul lewe uit.
Baie mense ontdek dit nooit nie, en mis die ware lewe.
In selfsug probeer mense soveel as moontlik vir hulleself uit die lewe kry.
Die samelewing hemel mense op wat “wenners” is, eerder as dienaars.
Vir God is dit egter belangrik dat ons dienaars is!

Efesiërs 2:10 sê God het ons in Christus verlos om ons lewe te wy
aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Elke gelowige het ‘n spesiale plek en funksie om te dien in God se koninkryk.
Ons groei in ons karakter as kinders van die Here,
om beter toegerus te wees vir diens!
Ware belangrikheid voor die Here is nie die sukses in jou loopbaan ,
sport, of wat ookal nie, maar in hoe ‘n mate jy in alle aspekte van jou lewe
diensbaar is met die gesindheid van Jesus Christus. Fil. 2:5.
Diens in die klein en onopsigtelike is vir die Here net so
belangrik as die groot en opspraakwekkende.

Die belangrikste is nie wát jy doen nie, maar hóé jy dit doen.
Moeder Teresa het gesê ‘n heilige lewe beteken dat jy God se werk
met vreugde en ‘n glimlag doen.
Lê jou daarop toe om in die geloof te dien met die gawes wat God aan jou gee.
Waar is jy diensbaar sonder dat jy daarvoor betaal word?
Wie sal jou mis as jy nie meer daar dien nie?
Hoe minder jy gemis word, hoe minder is jy diensbaar.
Solank ons dien vir dit wat ons daaruit kan kry,
het ons nog nie diensbaarheid vir die Here gesnap nie.

Ernest