Ons dien met die gawes wat God aan ons gee.
Dit kan goed opgesom word met die akroniem SHAPE.
Rick Warren sit dit so uiteen:
Spiritual Gifts – genadegawes.
Heart – passie.
Ability – aanleg en vermoëns.
Personality – persoonlikheid.
Experience – ervaring.
Dit alles gee die Here vir ons as gawes om daarmee te dien!
Genadegawes – is God se spesiale vermoëns wat Hy aan jou skenk. 1 Kor. 2:11.
Dit waarmee jy Hom en jou medemens op die beste wyse kan dien.
Die Heilige Gees gee nie aan jou ál die gawes nie.
Maar alle gawes is vir die Gees ewe belangrik, en daarom het ons mekaar nodig.
Passie – is die emosionele hartklop wat die Here jou gee.
Dit klop vinniger as jy doen waarvan jy hou. God laat jou in dinge belangstel.
Daarvoor wil Hy jou gebruik. Daarin is jy meer geesdriftig en meer doeltreffend.
Dan het jy baie om vóór te leef!....nie net om ván te leef nie.
Aanleg – is God se natuurlike talent vir jou.
God wil hê jy moet doen wat jy kán doen.
Of dit sing is, of geldmaak, of met jou hande kan werk, of onderrig gee, of wat ookal.
Die belangrike is om die Here daarmee te dien, en dit aan Hom toe te wy.
Persoonlikheid – jy is uniek geskep deur God. Daar is net één soos jy.
Die Bybel is vol daarvan hoe God verskillende mense met verskillende persoonlikhede gebruik.
Moenie teen jou grein probeer werk en dien nie. Jy dien die beste deur jouself te wees.
Jou persoonlikheid gaan help wáár jy jou gawes en vermoëns gebruik.
Ervaring – ervarings in jou familie, opvoeding, vriendekring, beroep, sport, het jou gevorm.
Daar is ook goeie ervarings wat lekker is, en pynlike ervarings waar jy uit seerkry groei.
In dit alles bou God jou karakter om Hom en jou naaste beter te kan dien.
Dit leer jou om te bemoedig, vreugde te deel, te help in nood, te volhard, en te vertrou.
Gaan díén!!... deur die GENADEGAWES en AANLEG,
wat God jou gegee het, met PASSIE te gebruik,
vir die bediening wat jou PERSOONLIKHEID
en ERVARINGS die beste pas.
Begin net deur te dien!
“Wat julle ookal doen,
doen dit van harte soos vir die Here,
en nie vir mense nie..” Kol.3:23.
Ernest