Die Here wil hê ons moet dit geniet,
om Hom en ons medemens te dien!
Begin net dien, en doen dit doelbewus vir die Here.
Doelbewus vir Hóm!
Jy is jý, en net jý kan dit waarvoor jy ‘n passie het, die beste doen.
Baie keer weet ons nie eers waarop ons diens sal uitloop nie.
Doen dit net. God sal sy doel daarmee bereik.
Jesus sê vir Petrus dat hy eers later sal verstaan
wat dit beteken dat Hy sy voete gewas het. Joh. 13:7.
En dan sê die Here in Joh. 13:15 dat Hy die voorbeeld stel,
en ons moet dit ook gaan doen.
Aanvaar en geniet wíé jy is.
God is die pottebakker en jy die klei.
Hy verwag nie van jou om verder te gaan,
as wat Hy jou toegerus het nie.
Daarom wil Hy jou dit laat geniet!
Moenie jou met ander vergelyk nie.
Dit maak jou óf hoogmoedig,
óf dit laat jou minderwaardig voel.
Fokus op God, en nie die verwagtings van mense nie.
Daarin het Paulus se sukses in sy bediening gelê.
Albert Schweitzer het aan mediese studente gesê:
“Ek weet nie wat die toekoms vir julle inhou nie,
maar ek kán verseker voorspel dat die ouens onder julle,
wat werklik gelukkig gaan wees,
díé is wat ‘n plek gesoek en dit gevind het,
waar julle waarlik tot diens van julle medemens kan wees.”
Albert Schweitzer het ook verder gesê:
“Die enigste mens wat waarlik gelukkig is –
en dit mag snaaks klink maar toets dit gerus uit! –
is hulle wat uitgevind het hoe hulle ander kan dien,
en dit dan dóén.”
Geniet dit om te dien,
omdat jy daarmee die Here dien!
Ernest