Ons ervaar dikwels ander se óndankbaarheid teenoor ons,
in ons opregte pogings en harde werk, wat hulle nie waardeer nie.
Ons moet egter nie toelaat dat die ondankbaarheid
van ander mense ons eie hart vergiftig met bitterheid nie.
‘n Bitter hart word self ‘n ondankbare hart.
Moenie toelaat dat die Bose so jou lewensvreugde en vrede steel nie.
Dit was juis ‘n duiwelse leuen wat die oorsaak was
van ondankbaarheid in Adam en Eva se harte.
‘n Leuen het die vloek van ondankbaarheid en verwoesting veroorsaak.
Die gevolg was dat God se ware heerlikheid verwronge geraak het in hulle denke,
en ook in die denke van hulle nageslag, en tot vandag toe!
Jesus het egter ons harte met die nuwe lewe kom vul,
wat weer ‘n lewe van dankbaarheid teenoor God is!
Ons doen dus alles wat ons doen in hierdie lewe,
met dankbaarheid aan God,
vir ons verlossing en nuwe lewe in Hom!
Dankbaarheid word die kenmerk van ons lewe,
en danksegging weerklink oor ons lippe.
1Tess. 5:18:
“Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Word en wees ‘n kind van die Here wat dankbaarheid hervestig,
en herbevestig, oral waar jy leef!
Laat die hemelse heerskappy van die Here,
ook deur jou grondvat in hierdie aardse werklikheid,
weereens, oral waar jy leef!
Leef dankbaar!
Ernest