Selfs al gaan jy deur ‘n smeltkroes, kan jy wéét die Here is met jou besig.
Jesaja 48:10 sê:
“Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer gelouter word nie,
Ek het jou gelouter in die smeltkroes van ellende.”
Daaroor sê Petrus later in 1 Petrus 1:6-7:
“Verheug julle hieroor,
selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word
deur allerhande beproewings,
sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.
Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.
Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets,
en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word,
sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees….”
Lees weer hierdie twee verse en oordink dit….
Ons moet selfs, en veral, in die vuuroond van beproewing onthou;
God ís ons Verlosser, Beskermer, en Gód!
Bo alles is Hy my liefdevolle Vader!
Hy onderrig ons deur die smeltkroes van beproewing.
Hy rig ons voetstappe daarin, en daardeur.
Hy lig ons toe met wysheid, en beskerm ons teen onheil.
Kyk net wat sê die Here, kort na Jesaja 48:10
se loutering in die smeltkroes, in vers 17:
“Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil,
wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.”
Die Here help ons in beproewing,
om te weet op watter weg ons moet gaan.
Hoekom weet ons dit nie vroegtydig nie?
As die Here ons vroegtydig inlig oor die besonderhede
van ons omstandighede, sal ons uitgeputte gemoed net
méér hê om verkeerd te verstaan,
én ons sal nog minder afhanklik van God probeer lewe.
Die omstandighede is gewoonlik baie makliker,
as die gedagtes wat ons voortydig daaroor koester.
Ons loop gewoonlik, ín bekommernis, al hoe méér in bekommernis in!
Ons moet besef:
God ís ons Bron van sekuriteit.
Hy louter ons tot groei in die egtheid van ons geloof.
Hy onderrig ons in die smeltkroes, tot ons eie beswil, sê Jes. 48:17.
Hy lei ons op die pad waarop ons moet gaan.
Bo alles is God jou liefdevolle Vader!
Ernest