Dit is belangrik dat God in Jesaja 55:8 sê:
“My gedagtes is nie julle gedagtes nie,
en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;
soos die hemel hoër is as die aarde,
so is my optrede verhewe bo julle optrede.”
Dit is juis een van die redes waarom ons dikwels probleme met God het.
Ons wil met Hom arm druk oor ons wil teenoor sy wil,
en ons insig en wysheid, teenoor syne.
Maar die Here se bedoeling in bogenoemde teks is nie dat Hy onkenbaar is nie.
Hy wil beklemtoon dat ons nie eers kan begin verstaan,
as Hy nie dinge aan ons bekendmaak nie.
Hy openbaar aan ons die waarheid en kennis om Hom te ken.
Ons kan God leer ken omdat Hy ons skep om Hom te ken.
In Genesis 1 lees ons dat Hy ons skep as sy verteenwoordiger, volgens sy beeld.
Daardeur kan ons nou in ‘n verhouding met God staan.
God self maak dit moontlik.
In die hele skepping het net die mens die vermoë om God te ken.
Ons kan God ook ken omdat Hy Homself aan ons bekendmaak.
Hy openbaar Homself in die Woord aan ons.
Reeds in Genesis 1 lees ons “en God het gesê.”
Jesaja sê 20 keer dat hy die “woord van die Here” bring,
met ander woorde, dit wat God sê.
Esegiël sê dit 60 keer, en Jeremia 100 keer.
God sê in Jeremia 30:2 vir Jeremia:
“Skryf alles wat Ek met jou gepraat het in ‘n boek.”
In 1 Kor. 2:13 sê Paulus:
“Dit verkondig ons ook,
nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie,
maar met die woorde wat die Gees ons leer.”
Die Christene in Tessalonika sê in 1 Tess. 2:13:
“…dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God.”
Openbaring 1:1 sê:
“Wat hier volg is deur Jesus Christus geopenbaar.
God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur vir Hom gegee.”
God openbaar Homself. Hy is nie net ‘n geheimenis nie.
Die vraag is of jy jou besig hou met sy openbaring aan jou,
die Woord van God,
sodat jy Hom meer en meer kan kén,
en in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan lewe.
Doen dit, en léwe!
Ernest