Die rolprent Schindler’s List konfronteer ons met die slagting
van die Jode deur die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog.
Die ware verhaal word vertel van Oscar Schindler,
die man wat in ‘n sekere sin ‘n paradoks was.
Hy het as Nazi munt geslaan uit die oorlog,
juis deur Joodse arbeid.
Nogtans het hy 1100 Jode van strafkampe gered.

Die krisisoomblik breek aan wanneer Itzhak Stern,
Schindler se Joodse rekenmeester,
‘n lys opstel van die persone wat deur Schindler gered gaan word.
Skielik besef Stern dat dit die name is van mense
wat van die Nazi oonde gered gaan word.
Schindler het hulle gekoop met die winste
van sy besigheid waarin hulle werk.
En dan sê Stern:
“Die lys is iets baie goed. Dit is lewe!”
Dit verteenwoordig ‘n demonstrasie van deernis
in die aangesig van die verskriklikste wreedheid.
Mense wat verlore is, word gered van die gaskamers.

Ons vind die grootste demonstrasie van buitengewone liefde en deernis
wanneer Jesus in Lukas 19:10 sê:
“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Dit is aan die kruis waar Jesus hierdie redding bewerk.
Dit is daar waar ons gered word van die vuur.
Dit is by die kruis waar jy ontdek jy word uit die vuur geruk.
Daar het die Here Jesus in ons plek kom sterf.
Schindler het lewens met geld gekoop.
Jesus Christus het ons vrygekoop met sy eie lewe!

Dit is aan die kruis waar ons die goedheid van God en
“die heerlikheid van God sien wat van Jesus Christus uitstraal.” 2 Kor.4:6.
Volmaakte liefde en volmaakte genade.
Dit wat elkeen van ons dringend nodig het.

Ernest