“Prys die Here! Ek wil die Here prys” – Psalm 146:1.
Ons lees dikwels “lofliedere” vir wat mense doen.
En dan sal die persoon, so half terloops,
dit eervol vermeld dat die Here die eer toekom.
Soms ervaar jy opregtheid daarin, en dikwels nie.
Ons het die vermoë om aan God die eer te gee,
en self die krediet daarvoor te neem.
Ons dink einlik dat ons self iets doen,
en gee dan aan God die eer….
omdat dit die “regte” ding is om te doen.
So ‘n soort van ‘n eervolle vermelding.
Iemand sê “so asof jy vir ‘n kelner ‘n fooitjie gee.”
Mag die Here ons help om werklik alle eer aan Hom te gee,
in die grootste nederigheid,
in terme van wat Hý deur ons doen in hierdie wêreld.
Ons hoor selde in die gewone gang van die lewe opregte lof aan die Here.
Dit is asof dit net vir aanbiddingsgeleenthede gereserveer word.
Behoort ons wat Hom persoonlik ken,
Hom nie met oorgawe te loof en prys,
veral in ons daaglikse lewe en gesprekke nie.
Ons wil dikwels so fatsoenlik lewe,
dat ons minder en minder ons oortuigings uitlewe.
Ons kan in ons daaglikse lewe met oorgawe melding maak
van God se majesteit, sy wonderwerke, sy liefde en genade.
Ons kan dit in besonderhede beskryf,
soos ons ‘n goeie hou op die golfbaan beskryf,
of ‘n persoonlike oorwinning oor iets in ons eie lewe,
of wat ookal, wat ons met entoesiasme met ander deel.
Saam met Psalm 103:1-2 wil ons tog die Here loof “met álles wat in my is!”
“Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.
Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.”
Ernest